York
Kaart | Wapen (Council) |
Vlag | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land (VK) | Engeland |
Seremoniële graafskap | Noord-Yorkshire |
Administratiewe streek | Yorkshire and the Humber |
Koördinate | 53° 57' N, 1° 4' W |
Stigting | 71 (as Eboracum) |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 271,94 vk km |
Hoogte bo seevlak | - m |
Bevolking: | |
- Totaal (unitary authority area, 2015) | 206 900 |
- Bevolkingsdigtheid | 760,8/km² |
Tydsone | UTC ±0 (GMT) |
- Somertyd | UTC +1 (BST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 9,75 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 3,5 / 16,5 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 639 mm |
Administrasie | Unitary Authority, City |
Amptelike webwerf | http://www.york.gov.uk/ |
York [ˈjɔrk] is 'n stad wat by die samevloeiing van die Ouse- en Foss-riviere in Noord-Yorkshire, Engeland geleë is. York het 'n lang geskiedenis wat tot in die Romeinse tydperk terugstrek, van daar sy bynaam "Ewige Stad". Dit is oorspronklik in 71 n.C. as Eboracum deur die Romeine gestig en het later, toe die Romeinse provinsie Britannia in die vroeë 3de eeu in twee administratiewe eenhede opgedeel is, as administratiewe setel van Britannia Inferior gedien - 'n provinsie wat die noordelike helfte van Romeins-Brittanje beslaan het. Sy belangrikheid word weerspieël in die feit dat twee Romeinse keisers hier oorlede is - Septimius Severus in 211 en Constantius I in 306. Die laasgenoemde se seun Konstantyn is vervolgens hier deur die troepe van sy vader as nuwe keiser aangewys.[1]
Later het York as hoofstad van die koninkryke van Northumbria en Jorvik gedien. York was ook die historiese setel van die graafskap Yorkshire.
In die Middeleeue het York tot 'n belangrike wolhandelsentrum ontwikkel. Sowel sy versterkings asook sy status as setel van die Kerk van Engeland se Noordelike Kerkprovinsie dateer uit hierdie periode. Die plaaslike katedraal York Minster is die bekendste van York se talle historiese en kulturele besienswaardighede.
In die 19de eeu het York tot 'n middelpunt van die Britse spoorwegnetwerk ontwikkel, terwyl klerevervaardiging en spoorwegverwante nywerhede tot die belangrikste plaaslike bedrywe gegroei het. Intussen het die dienstesektor met onder meer die Universiteit van York en gesondheidsdienste die belangrikste werkverskaffer geword. Daarnaas speel ook toerisme 'n beduidende rol in die plaaslike ekonomie.
Sedert 1996 behels die amptelike administratiewe term City of York 'n sogenaamde unitary authority area wat ook landelike gebiede buite die ou stadsgrense insluit. In 2001 het die stedelike gebied van York 'n bevolking van 137 505 gehad, terwyl die unitary authority area se bevolkingsgetal teen die middel van 2015 op 206 900 beraam is.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Patrick Ottaway: Roman York. Stroud: Tempus Publishing 2004, omslagteks