Gaan na inhoud

Naspers

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Naspers
Tipe Aandelemaatskappy
Gestig 12 Mei 1915
Hoofkantoor Kaapstad, Wes-Kaap,  Suid-Afrika
SleutelpersoneKoos Bekker (voorsitter)
Bob van Dijk (hoof- uitvoerende beampte)
Gebied bedienWêreldwyd
IndustrieUitsaaiwese, uitgewery, internet
ProdukteMassamedia
InkomsteR50,2 miljard[1] (2013)
BedryfsinkomsteR8,5 miljard[1] (2013)
Webwerfnaspers.co.za
naspers.com
Naspers N
2015-01-10
'n Grafiek van die historiese sluitingsprys van die betrokke effek.
Historiese sluitingsprys van Naspers N-aandele op die JSE. 'n Aandeelhouer wat op 10 Januarie 2005 R100 belê het, sou op 9 Januarie 2015 R2 306 hê, indien dividende nie herbelê is nie.

Simbool NPN
Goedgekeur 500 000 000
Uitgereik 417 488 215
Sluitingsprys ZAR 1 675,34
Beurswaarde ZAR 699 miljard

Aandeelhouers
Openbare Beleggingskorporasie 11.03%
Coronation Fund Managers 6.60%
Capital Research and Management Company 4.97%
Dodge & Cox Incorporated 4.88%

Naspers is ’n multinasionale mediagroep en sy hoofbedrywe word toegespits op betaaltelevisie en internet-intekenaarplatforms, drukmedia, verspreiding, boekuitgewery, private onderwys en verwante tegnologiemarkte. Naspers se belangrikste maatskappye is in Suid-Afrika, waar ongeveer 73% van sy omset gegenereer word, met ander groot bedrywe elders in Sub-Sahara Afrika, Griekeland, Ciprus, Nederland, die Verenigde State van Amerika, Thailand en China. Die groep lewer sy inhoud in verskeie vorms en deur middel van 'n verskeidenheid kanale, insluitende televisieplatforms, internetdienste, koerante, tydskrifte en boeke. Naspers se sake bestaan uit twee kernsektore.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

DIE EKONOMIE
VAN SUID-AFRIKA


Artikels in hierdie reeks:
Ekonomie van Suid-Afrika
Krugerrand
Landbou in Suid-Afrika
Naspers
Suid-Afrikaanse Rand

Die Media24-sentrum in Kaapstad waarin Naspers se hoofkantoor gesetel is.

Naspers is op 12 Mei 1915 in Kaapstad gestig as De Nationale Pers, ’n openbare maatskappy met beperkte aanspreeklikheid, ingevolge die wette van die destydse Unie van Suid-Afrika. Desondanks het die maatskappy eers op 12 September 1994 op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) genoteer, met 111,4 miljoen aandele.

Die naam van die maatskappy is interessant. Dit is amper dieselfde as Nasionale Party, en die ooreenkoms is nie noodwendig toevallig nie:

Die Anglo-Boereoorlog het knap 13 jaar tevore geëindig in die Vrede van Vereeniging, wat nie alleen deur die Republikeinse Afrikaners nie, maar ook dié in Kaapland, as ’n enorme verlies ervaar is. Die politiek van twee oudstryders van die Anglo-Boereoorlog wat die Afrikaner van hulle vervreem het, genls. Louis Botha en Jan Christian Smuts, lê ten grondslag van die totstandkoming van Die Burger en uiteraard die Nasionale Pers, nou Naspers. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog op 4 Augustus 1914 het Botha, eerste minister van die Unie-regering, en Smuts, sy minister van verdediging, besluit om Brittanje te steun en oorlog teen Duits-Suidwes-Afrika (nou Namibië) te verklaar.

Hierdie besluit het gelei tot 'n gewapende rebellie deur duisende Afrikaners onder leiding van die oudstryders genls. C.R. de Wet, Koos de la Rey, C.F. Beyers, Jan Kemp, Manie Maritz en Edwin Conroy. De la Rey en Beyers het in twyfelagtige omstandighede gesterf. Kapt. Jopie Fourie is op 19 Desember 1914 ter dood veroordeel en op 20 Desember gefusilleer. Die ander rebelleleiers is tronkstraf opgelê.

Op 18 Desember 1914 het sestien voorste Afrikaners in die Victoriaanse woning Heemstede in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, vergader om die stigting van 'n nasionale nuusblad te bespreek. Nadat die twee weldoeners Jannie en Christiaan Marais van Stellenbosch groot bedrae voorgeskiet en geskenk het om die projek te begin, het die stigters hulle tot die "volk" gewend om aandele in die Nasionale Pers op te neem. Hulle het dr. D.F. Malan, leraar van die NG gemeente Graaff-Reinet, op 15 April 1915 versoek om die eerste redakteur van De Burger te word. Genl. De Wet en nog 94 rebelle, wat saam in die tronk in Kimberley opgesluit was, het 'n gesamentlike brief aan Malan geskryf om hom aan te moedig om die redakteurspos te aanvaar.

Wat die Afrikanernasionaliste dus in dié tyd bowenal besiel het, was die herstel van die Afrikaners se selfrespek. Dit het beteken dat hulle hul aanwesigheid moes begin laat geld op ekonomiese terrein (wat nagenoeg volledig deur Engelssprekendes oorheers is), op kulturele gebied (waar die taalstryd ’n sentrale rol sou speel) en die politieke arena. Laasgenoemde is aangepak deur die stigting van die Nasionale Party op 1 Julie 1914. Die stigting van Naspers slegs enkele maande later, sou ’n bydrae op die ander terreine lewer, en terselfdertyd as publisiteitsorgaan vir die party optree. Naspers is dus in 1915 begin met 'n politieke motief as ’n drukker en uitgewer van ’n dagblad, De Burger. Daardie sentiment is in De Burger se eerste hoofartikel verwoord: “ ‘De Burger’ is een kind van de smart en van de hoop. Hij is geboren uit de weën van ons volk... In de ontwaking van ons nationaal eenheidsgevoel ligt onze redding. Dit gevoel wil ‘De Burger’ sterken en leiden.

Sowel die Party as die Pers is dus gestig om die Afrikaners te bevry, en as sodanig moet hulle beskou word as van die eerste nasionalistiese bevrydingsbewegings in Afrika.

Die maatskappy is vir die grootste deel van sy bestaan geassosieer met die besigheidsarm van die Nasionale Party en partyleiers soos H.F. Verwoerd en P.W. Botha het in die direksie gedien.

In 1916 het Naspers sy sake uitgebrei deur sy eerste tydskrif (De Huisgenoot) uit te gee en in 1918 is sy boekuitgewery gestig.

Met die koms van elektroniese media in die 1980’s het Naspers sy aktiwiteite uitgebrei om betaaltelevisie- en later internet-mediaplatforms in te sluit en daar is toenemend strategiese beleggings in die buiteland gemaak.

Drukmedia

[wysig | wysig bron]

Media24 hanteer die publikasie van Naspers se koerante en tydskrifte, asook sy drukkerye. Dit omvat ook Media24 Digital se internetwerksaamhede. Media24 is die grootste uitgewer van tydskrifte, een van die grootste uitgewers van koerante en die grootste drukker en verspreider van tydskrifte en verwante produkte in Afrika. In die 2005-boekjaar het hierdie sektor ongeveer 33% tot Naspers se totale omset bygedra.

Intekenaarplatforms

[wysig | wysig bron]

Hierdie sektor bestaan uit betaaltelevisie, internet en verwante tegnologiese bedrywighede. Dit word hoofsaaklik deur middel van MIH Beherend bedryf. In die 2005-boekjaar het dié sektor om en by 67% tot Naspers se totale omset bygedra.

21ste eeu

[wysig | wysig bron]

Aan die einde van die 20ste eeu het Naspers etlike beleggings in Chinese internetondernemings gemaak. Hierdie beleggings was nie groot suksesse nie, en Naspers se verliese in China het inderdaad begin toeneem. Etlike ander beleggings in Europa, die Verenigde State en Suid-Afrika het insgelyk kontant uitgebloei, sodat drastiese kostebesnoeiing in werking gestel is. Een persoon wie se kontrak nie hernu is nie, was Hans Hawinkels wat 'n uitsonderlik goeie belegging vir Naspers beding het, voordat dit destyds duidelik was.[2]

Koos Bekker is in 1997 aangestel as hoofuitvoerende beampte van Naspers, en het kort hierop vir Hawinkels aangestel as HUB van MIH Asia. Hawinkels het na Hong Kong verhuis en daar na beleggingsgeleenthede vir Naspers gesoek. Hy het kennis gemaak met Ma Huateng (Pony Ma), stigter van Tencent, 'n maatskappy wat 'n vinnig groeiende kitsboodskapplatform, QQ, bedryf het. MIH en Naspers het nie Hawinkels en Huateng se optimisme gedeel nie, want Naspers was op die punt om sy eerste jaarlikse verlies sedert sy ontstaan te rapporteer, en die dotcom-sektor het juis wankelrig vertoon.[2]

Danksy Hawinkels se vasbeslotenheid en sy oorreding van Tencent-aandeelhouers IDG en PCCW om hul aandele te verkoop, kon die waagkapitaaltransaksie in Naspers se guns beklink word. In Junie 2001 het Naspers $33 miljoen (R266 miljoen destyds) betaal vir 'n 46,5%-belang in Tencent, en reeds daardie maand het Tencent winsgewend geword. Tencent het na 'n paar jaar begin wys dat dit geen gemiddelde rolspeler in die tegnologiemark was nie. Deur as tegnologiereus na vore te tree het dit Naspers en Prosus se gesamentlike markkapitalisasie in die triljoene laat styg, terwyl Bekker en die Tencent-stigters se aandeelhoudings daarmee saam tot die miljarde gestyg het. Na sy Naspers-betrokkenheid het Hawinkels direkteurskappe by Truworths International, Times Media Group en Wyzetalk opgeneem.[2]

Tydskrifte

[wysig | wysig bron]

Koerante

[wysig | wysig bron]

Intekenaarplatforms

[wysig | wysig bron]

Kitsboodskappers

[wysig | wysig bron]

Internet

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 (en) naspers.com: Audited results for the year ended 31 March 2013 Geargiveer 8 Oktober 2013 op Wayback Machine, Junie 2013, besoek op 19 April 2014.
  2. 2,0 2,1 2,2 Strydom, TJ (28 Augustus 2023). "The man who made Naspers R2 trillion – and lost his job". Telecommunications. dailyinvestor.com. Daily Investor. Besoek op 31 Augustus 2023.
  3. 3,0 3,1 (en) naspers.com/companies besoek op 28 November 2017.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]