Gaan na inhoud

Dionusios van Halikarnassos

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Dionusios van Halikarnassos
'n Beeld van Dionusios van Halikarnassos uit die Codices Ambrosiani.
Geboreomstreeks 60 v.C.
Sterfomstreeks 7 v.C. (op 53-jarige ouderdom)
BurgerskapRomeinse burger
BeroepGeskiedkundige, skrywer en retorikus
Noemenswaardige werke
  • Romeinse Oudhede

Dionusios van Halikarnassos (Oudgrieks: Διονύσιος Ἀλεξάνδρου Ἁλικαρνασσεύς, Dionúsios Alexándrou Halikarnasseús; letterlik: 'Dionusios (seun van Alexandros) van Halikarnassos'; omstreeks 60 v.C. – ná 7 v.C.) was 'n Griekse geskiedkundige en leermeester van retoriek. Hy het gefloreer gedurende die bewind van keiser Augustus.[1] Sy literêre styl was "attisisties" – 'n nabootsing van klassieke Attiese Griekeland op sy hoogty.

Isokrates, hier uitgebeeld in 'n kopie van 'n borsbeeld uit die Villa Albani in Rome, was een van die voorste denkers oor paideia.

Hy is bekend vir Rhōmaikē Archaiologia (Romeinse Oudhede), wat die geskiedenis van Rome van sy ontstaan tot die uitbreek van die Eerste Puniese Oorlog in 264 v.C. beskryf. Uit die 20 boeke waaruit die werk oorspronklik bestaan het, bestaan slegs nege.[2] Dionusios se opinie van die noodsaaklikheid van die bevordering van "paideia" (Paideia (ook gespel paedeia; {Grieks: παιδεία)[3] het verwys na die grootmaak en opvoeding van die ideale lid van die antieke Griekse polis of staat. Hierdie opvoedkundige ideale het later na die groter Grieks-Romeinse wêreld versprei, en is in Latyn humanitas genoem. Paideia was bedoel om aristokratiese deugde te bevorder by die jong burger wat op hierdie manier opgelei is. 'n Ideale man binne die polis sou afgerond wees, verfyn in intellek, sedes en liggaamlike deugde, en derhalwe was opleiding van die liggaam, verstand en siel belangrik. Beide praktiese, vakgebaseerde opleiding sowel as 'n fokus op die sosialisering van individue binne die aristokratiese orde van die polis was deel van hierdie opleiding. Die praktiese aspekte van "paideia" het vakke ingesluit binne die moderne begrip van fyn kunste (bv. retoriek, grammatika en filosofie), sowel as wetenskaplike dissiplines soos rekenkunde en medisyne. Gimnastiek en stoei is gewaardeer vir hul effek op die liggaam, saam met die morele opvoeding wat ingegee is deur die studie van musiek, poësie en filosofie. Hierdie benadering tot die grootmaak van 'n afgeronde Griekse jongman was algemeen in die Griekssprekende wêreld, met die uitsondering van Sparta, waar agoge beoefen is.) binne die opvoedingsregiment, het vir eeue voortgeduur in 'n vorm wat integraal was tot die identiteit van die Griekse elite.[4]

Hy was afkomstig van Halikarnassos.[4] Ná die einde van die burgeroorloë het hy na Rome verhuis en twee-en-twintig jaar spandeer in die bestudering van Latyn en letterkunde en die voorbereiding van materiaal vir sy geskiedenis.[2] Gedurende die tydperk het hy lesse gegee in retoriek en die samesyn geniet van verskeie uitgelese persone. Die datum van sy afsterwe is onbekend. In die 19de eeu is dit algemeen aanvaar dat hy die voorouer was van Aelius Dionusius.[5]

Werke

[wysig | wysig bron]

Romeinse Oudhede

[wysig | wysig bron]

Sy grootste werk, getiteld Romeinse Oudhede (Grieks: Ῥωμαϊκὴ Ἀρχαιολογία, Rhōmaikē Archaiologia) (Latyns: Antiquitates Romanae), handel oor die geskiedenis van Rome van die mitiese tydperk tot die aanvang van die Eerste Puniese Oorlog. Dit bestaan oorspronklik uit 20 boeke, maar slegs die eerste 9 hoofstukke bestaan steeds, terwyl die oorblywende boeke slegs as fragmente bestaan,[2] in die vorm van uittreksels deur die Romeinse keiser Constantine Porphyrogenitus en 'n epitoom wat ontdek is deur Angelo Mai in 'n Milaanse manuskrip. Dionusius is die eerste groot historikus van die vroeë Romeinse geskiedenis wie se werk steeds bestaan. Verskeie ander antieke historici wat oor hierdie tydperk geskryf het, het Dionusius byna seker as bron vir hul materiaal gebruik. Die werke van Appianus, Plutarchus en Livius beskryf almal soortgelyke mense en gebeure van vroeë Rome as Dionusios.


In die voorwoord tot Boek I konstateer Dionusios dat die Griekse mense 'n gebrek het aan die mees basiese inligting oor Romeimnse geskiedenis, welke gebrek hy hoop om herstel met die huidige werk.

Boek I   (1300?)–753 v.C.
Mitiese vroeë geskiedenis van Italië en sy mense. Boek I vertel ook die geskiedenis van Aeneas en sy nageslag sowel as Dionisius se vertelling van die Romulus en Remus-mite, wat eindig met die dood van Remus.
Boek II   753–673 v.C.: Die Romeinse monargie se eerste twee konings, Romulus en Numa Pompilius. Romulus formuleer gebruike en wette vir Rome. Sabynse oorlog- soos in die daaropvolgende dele van die geskiedenis, word hierdie vroeë konflik beskryf asof talle offisiere, duisende infanterie en kavallerie betrokke was. Dit is hoogs onwaarskynlik, maar is 'n algemene anachronisme wat by antieke historici gevind word.
Boek III   673–575 v.C.: Konings Tullus Hostilius tot Lucius Tarquinius Priscus.
Boek IV   575–509 v.C.: Laaste van die Romeinse konings en einde van die monargie met die omverwerping van Lucius Tarquinius Superbus.
Boek V   509-497 v.C.: Begin van die Romeinse Republiek en konsulêre jare.
Boek VI   496–493 v.C.: Sluit die eerste geval van Plebeiese afskeiding in.
Boek VII   492–490 v.C.: Hierdie boek beskryf uitvoerig die agtergrond wat gelei het tot die Romeinse Coriolanus se verhoor wat in sy ballingskap geëindig het. 'n Groot deel van die boek is 'n debat tussen ondersteuners van die oligargie en die plebejers.
Boek VIII   489–482 v.C.: Coriolanus, nou verban, sluit 'n verbond met Rome se huidige primêre vyand, die Volsciërs. Coriolanus lei die Volsciese leër tydens 'n suksesvolle veldtog teen die Romeine se bondgenote en is op die punt om Rome self te verower. Coriolanus se moeder tree namens die Romeinse staat in gesprek om die konflik te beëindig en slaag daarin. Coriolanus word hierna op verraderlike wyse deur die Volsciërs vermoor. Die oorblywende deel van die boek dek die militêre veldtogte om grondgebied van die Volsciërs te herwin.
Boek IX   481–462 v.C.: Verskeie militêre veldtogte van gemengde sukses in die buiteland. Binnelands argumenteer die plebejers en patrisiërs en die "Konflik van die Ordes" of "Stryd van die Ordes" duur voort. Die aantal tribune word van 5 tot 10 verhoog. Boek IX eindig met die eerste twee jaar van die decemviraat en die skepping van die eerste Romeinse Regkodes.
Boek X   461–449 BC: Die decemviraat duur voort.
Nota
Die laaste tien boeke is fragmentaries, gebaseer op uittreksels uit Middeleeuse Bisantynse geskiedenissamestellings. Boek XI bestaan meestal op ongeveer 50 bladsye (Aeterna Press, 2015 uitgawe), terwyl die oorblywende boeke slegs 12–14 bladsye per boek uitmaak.
Boek XI   449–443 v.C.: fragmente
Boek XII   442–396 v.C.: fragmente
Boek XIII   394–390 v.C.: fragmente
Boek XIV   390 v.C.: Galliërs. Slag aan die Allia en die plundering van Rome (387 v.C.).
Boek XV
Eerste- en Tweede Samnitiese oorlog.
Boek XVI–XVII: Derde Samnitiese oorlog.
Boek XIX
Die begin van konflikte tussen Rome en die krygsheer Pyrrhus van Epirus. Bedreig deur Romeinse uitbreiding na suidelike Italië, vra die stad Tarentum Pyrrhus om hulle te beskerm.
Boek XX: Romeins-Pyrrhiese oorlog, met Pyrrhus se tweede inval in Italië.

Omdat sy hoofdoelwit was om die Grieke te versoen met Romeinse heerskappy, het Dionusios gefokus op die goeie eienskappe van hul veroweraars, en ook aangevoer dat – gebaseer op antieke bronne uit sy eie tyd – die Romeine ware afstammelinge was van die ouer Grieke.[6][7] Volgens Dionusios is geskiedenis die onderrig van filosofie by wyse van voorbeelde, en hierdie idee het hy uit die oogpunt van 'n Griekse retorikus gepropageer. Maar hy het die beste gesag noukeurig geraadpleeg, en sy werk en dié van Livius is die enigste gekoppelde en gedetailleerde bestaande verslae van die vroeë Romeinse geskiedenis.[8](pp240–241)

Ander werke

[wysig | wysig bron]

Dionusios was ook die outeur van verskeie verhandelings oor retorika waarin hy aantoon dat hy die beste Attiese modelle deeglik bestudeer het:

Die Kuns van Retoriek (Grieks: Τέχνη ῥητορική; translit.: Tékhnē rhētorikḗ: 'n versameling essays oor die teorie van retoriek, onvolledig en nie alles sy werk nie;
Die Ordening van Woorde (Grieks: Περὶ συνθέσεως ὀνομάτων; translit.: Perì sunthéseōs onomátōn, Latyns: De compositione verborum): oor die ordening van woorde volgens die verskillende redenaarstyle;
Oor Nabootsing]] (Grieks: Περὶ μιμήσεως; translit.: Perì mimḗseōs: oor die beste modelle in die verskillende tipes literatuur en die wyse waarop dit nageboots moet word—'n gefragmenteerde werk;
Kommentaar op die Attiese Redenaars (Grieks: Περὶ τῶν Ἀττικῶν ῥητόρων; translit.: Perì tôn Attikôn rhētórōn: handel oor Lysias, Isaeus, Isocrates en as byvoeging, Dinarchus;
Oor die Bewonderenswaardige Styl van Demosthenes (Grieks: Περὶ λεκτικῆς Δημοσθένους δεινότητος; translit.: Perì lektikês Dēmosthénous deinótētos)
Oor die Karakter van Thucydides (Grieks: Περὶ Θουκιδίδου χαρακτῆρος; translit.: Perì Thoukidídou kharaktêros)

Die laaste twee verhandelings word aangevul deur briewe aan Pompeius en Ammaeus (twee, waarvan een oor Thucydides handel).

Dionusiese imitatio

[wysig | wysig bron]

Dionusiese imitatio is die literêre metode van nabootsing soos geformuleer deur Dionusius, wat dit beskou het as die retoriese praktyk om 'n bronteks deur 'n vroeëre skrywer na te boots, aan te pas, te verwerk en te verryk. [9][10] Dit toon duidelike ooreenkomste met Quintilianus se siening van nabootsing, en albei kan afkomstig wees van 'n gemeenskaplike bron.[11]

Dionusius se begrip wyk beduidend af van die begrip van mimesis soos geformuleer deur Aristoteles in die 4de eeu v.C., wat slegs gemoeid was met "nabootsing van die natuur" en nie "nabootsing van ander skrywers nie."[9] Latynse redenaars en retorici het Dionusius se metode van imitatio aangeneem, en Aristoteles se mimesis-metode verwerp.[9]

Geskiedenis in die Romeinse Oudhede en die stigtingsmite

[wysig | wysig bron]

Dionusius het uitgebreide navorsing vir sy Romeinse geskiedenis gedoen, die beskikibare gesag gekies en (byvoorbeeld) besonderhede van die Serviese Sensus bewaar.[8](p239)

Sy eerste twee boeke bied 'n verenigde weergawe van die veronderstelde Griekse oorsprong vir Rome, wat 'n verskeidenheid bronne in 'n vaste vertelling saamsmelt: die sukses het egter gekom ten koste van die verberging van die primitiewe Romeinse werklikheid (soos deur argeologie aan die lig gebring).<ref. name=Usher-1969/>(p241) Saam met Livius,[12] is Dionusios dus een van die primêre bronne vir die verhale van die Romeinse stigtingsmite, en dié van Romulus en Remus, en is bv. daarop gesteun in die latere publikasies van Plutarchus. Hy skryf breedvoerig oor die mite en skryf soms direkte aanhalings aan die figure daarvan toe. Die mite strek oor die eerste 2 volumes van sy Romeinse Oudhede, wat begin met Boek I hoofstuk 73 en eindig met Boek II hoofstuk 56.

Romulus en Remus

[wysig | wysig bron]

Oorsprong en oorlewing in die natuur

[wysig | wysig bron]

Dionusios beweer dat die tweeling Romulus en Remus gebore is uit 'n vestaalse maagd genaamd Ilia Silvia (soms genoem Rea), wat afstam van Aeneas van Troje, en die dogter is van Koning Latinus van die oorspronklike Latynse stamme oftewel Latini, wat Rome dus met beide Troje en die Latyne verbind. Dionusios lê die verskillende weergawes van haar swangerskap en die tweeling se bevrugting uiteen, maar weier om een bo die ander te kies.

Met verwysing na Fabius, Cincius, Porcius Cato en Piso, vertel Dionusios die mees algemene verhaal, waarvolgens die tweeling in die Tiber gegooi is; verlate gelaat is op die terrein van die ficus Ruminalis; en gered is deur 'n wolf wat hulle voed voor haar lêplek (die Lupercal), voordat hulle deur Faustulus aangeneem word.[13] Dionusios vertel 'n alternatiewe, "nie-fantastiese" weergawe van Romulus en Remus se geboorte, oorlewing en jeug. In hierdie weergawe het Numitor daarin geslaag om die tweeling by geboorte met twee ander babas te vervang.[14] Die tweeling word deur hul oupa aan Faustulus gegee om deur hom en sy vrou, Laurentia, 'n voormalige prostituut, grootgemaak te word. Volgens Plutarchus was lupa (Latyns vir "wolf") 'n algemene term vir lede van haar beroep en dit het aanleiding gegee tot wolf-legende.

Uitval en stigting van Rome

[wysig | wysig bron]

Die tweeling ontvang 'n behoorlike opvoeding in die stad Gabii, voordat hulle uiteindelik beheer verkry oor die gebied waar Rome gebou moet word. Toe die tyd aangebreek het om die stad Rome te bou het die twee broers gestry oor die spesifieke heuwel waarop Rome gebou moes word. Romulus het die Palatyn verkies, en Remus die heuwel wat later sou staan as Remoria (moontlik die Aventyn). Uiteindelik het die twee besluit om die keuse oor te laat aan die gode, op advies van hul grootvader. Met gebruikmaking van die voëls as voortekens het die twee broers besluit dat "hy aan wie die meer gunstige voëls die eerste keer verskyn, moet die kolonie regeer en die leier daarvan wees."[15] Aangesien Remus eerste nege aasvoëls gesien het, het hy beweer dat die gode hom gekies het en Romulus het beweer dat aangesien hy 'n groter (die "meer gunstige") aantal aasvoëls gesien het, die gode hom gekies het. Die twee broers en hul volgelinge kon nie tot 'n gevolgtrekking kom nie en het begin baklei, wat uiteindelik tot die dood van Remus gelei het. Na sy broer se dood het 'n bedroefde Romulus Remus op die plek van Remoria begrawe, wat die plek sy naam gegee het.[16]

Voordat die bou van die stad kon begin, het Romulus offers gebring en goeie voortekens ontvang. Hy het toe die bevolking beveel om rituele boetedoenings uit te voer vir hul skuld. Die stad se vestings is eerste gebou en daarna is huisvesting vir die bevolking gebou. Hy het die mense bymekaargebring en hulle 'n keuse gebied betreffende watter tipe regering hulle wou hê - monargie, demokrasie of oligargie - vir sy grondwet.[17] Na sy toespraak, wat dapperheid in oorlog in die buiteland en matigheid tuis verheerlik het, en waarin Romulus enige behoefte ontken het om aan bewind te bly, het die volk besluit om 'n koninkryk te bly en hom gevra om die koning daarvan te bly. Voordat hy aanvaar het, het hy gesoek na 'n teken van die gode se goedkeuring. Hy het gebid en 'n gunstige weerligstraal aanskou, waarna hy verklaar het dat geen koning die troon sal neem sonder om goedkeuring van die gode te ontvang nie.

Instellings

[wysig | wysig bron]

Dionusios het hierna 'n gedetailleerde weergawe van die 'Romulus'-grondwet verskaf, heel waarskynlik gebaseer op die werk van Varro.[18] Romulus het Rome blykbaar in 3 stamme verdeel, elk met 'n tribuun in beheer. Elke stam is verdeel in 10 "curia", en elkeen daarvan in kleiner eenhede. Hy het die koninkryk se grondbesit tussen hulle verdeel, en Dionusios alleen onder ons gesag dring daarop aan dat dit in gelyke hoeveelhede gedoen is.[18] Die Patrisiër-klas was geskei van die Plebeeiaanse klas; terwyl elke "curiae" verantwoordelik was vir die verskaffing van soldate in geval van oorlog.

Bernard van Orley, Romulus voorsien die wette aan die Romeinse mense – WGA16696

'n Stelsel van beskermheerskap (clientela), 'n Romeinse senaat (toegeskryf deur Dionusios aan Griekse invloed) en 'n persoonlike lyfwag van 300 van die sterkstes onder die adellikes is ook ingestel: laasgenoemde, die celeres, is so genoem óf vir hul spoed óf, volgens Valerius Antias, vir hul bevelvoerder.[19]

Skeiding van magte en maatreëls om mannekrag te vergroot is ook ingestel, asook Rome se godsdienstige gebruike en praktyke, en ’n verskeidenheid regsmaatreëls wat deur Dionusios geprys is.

Weereens beskryf Dionusios die wette van ander nasies deeglik voordat hy die benadering van Romulus kontrasteer en sy werk prys. Die Romeinse wet wat die huwelik beheer, is volgens sy Oudhede 'n elegante dog eenvoudige verbetering bo dié van ander nasies, waarvan die meeste onder sy pen deurloop. Deur te verklaar dat vrouens gelyk sou deel in die besittings en gedrag van hul man, het Romulus deugsaamheid in eersgenoemde bevorder en mishandeling deur laasgenoemde afgeskrik. Vrouens kon by hul man se dood erf. 'n Vrou se owerspel was 'n ernstige misdaad, maar dronkenskap kan 'n versagtende faktor wees in die bepaling van die gepaste straf. As gevolg van Romulus se wette, beweer Dionusios dat nie 'n enkele Romeinse egpaar oor die volgende vyf eeue geskei het nie.

Romulus se wette wat ouerlike regte reguleer, veral dié wat vaders toelaat om mag oor hul volwasse kinders te handhaaf, is ook as 'n verbetering bo dié van ander beskou; terwyl Dionusios verder met goedkeuring geskryf het oor hoe inheemse vrye Romeine tot twee vorme van indiensneming beperk is onder die wette van Romulus: boerdery en die weermag. Alle ander beroepe is gevul deur slawe of nie-Romeinse arbeid.

Romulus het sy kantoor gebruik om nakoming van die wet aan te moedig. Sy hof was imposant en gevul met lojale soldate en hy was altyd vergesel van die 12 liktors wat aangestel is om sy bediendes te wees.

Die verkragting van die Sabynse vroue en die dood van Romulus

[wysig | wysig bron]
Die ingryping van die Sabynse vroue, deur Jacques-Louis David, 1799

Na sy beskrywing van die instellings het Dionusios die beroemde Bruid-ontvoering van die Sabynse vroue beskryf en voorgestel dat die ontvoering 'n voorwendsel was vir 'n alliansie met die Sabyne.[20] Romulus wou verhoudings met naburige stede deur ondertrouery verstrek, maar nie een van hulle het die jong stad Rome waardig vir hul dogters gevind nie. Om dit te oorkom, het Romulus 'n fees ter ere van Neptunus (die "Consualia") gereël en die omliggende stede genooi om dit by te woon. Aan die einde van die fees het Romulus en die jong mans al die maagde by die fees gegryp en beplan om met hulle te trou volgens hulle gebruike.[21][22] In sy vertelling petisioneer die stede Caecina, Crustumerium en Antemnae egter vir Tatius, koning van die Sabyne, om hulle oorlogspoging te lei. Dit is eers na die beroemde ingryping van die Sabynse vroue dat die nasies ooreengekom het om 'n enkele koninkryk te vorm onder die gesamentlike heerskappy van Romulus en Tatius, en beide is verklaar tot Quirites.[23]

Na die dood van Tatius het Romulus egter meer diktatoriaal geword, totdat hy dood is, hetsy deur goddelike of aardse optrede. Een verhaal vertel van 'n "duisternis" wat Romulus uit sy oorlogskamp na sy vader in die hemel geneem het.[24] Nog 'n bron beweer dat Romulus deur sy Romeinse landgenote vermoor is nadat hy gyselaars vrygelaat het, en as gevolg van begunstiging en buitensporige wreedheid.[24]

Impak

[wysig | wysig bron]

Daar word algemeen aanvaar dat Josephus se Ou geskiedenis van die Jode beïnvloed is deur Dionusios se Romeinse oudhede. In onlangse jare word hierdie siening egter bestry deur verskeie skolastici en navorsers.[25]

Uitgawes

[wysig | wysig bron]
  • Versamelde werke geredigeer deur Friedrich Sylburg (1536–1596) (parallelle Grieks en Latyns) (Frankfurt 1586) (beskikbaar by Google Boeke)
  • Volledige uitgawe deur Johann Jakob Reiske (1774–1777)[26]
  • Archaeologia deur A. Kiessling (1860-1870) (vol. 1, vol. 2, vol. 3, vol. 4) en V. Prou (1886) en C. Jacoby (1885–1925) (vol. 1, vol. 2, vol. 3, vol. 4, supplementum) [26]
  • Opuscula deur Hermann Usener en Ludwig Radermacher (1899-1929)[26] in die Teubner-reeks (vol. 1 bevat Kommentaar op die Attiese Redenaars, Brief aan Ammaeus, Oor die Bewonderenswaardige Styl van Demosthenes, Oor die Karakter van Thucydides, Brief aan Ammaeus oor Thucydides, vol. 2 bevat Die Ordening van Woorde, Oor Nabootsing, Brief aan Pompeius, Die Kuns van Retoriek, Fragmente)
  • Romeinse Oudhede deur V. Fromentin en J. H. Sautel (1998–), en Opuscula rhetorica deur Germaine Aujac (1978–), in die Budé-versameling
  • Engelse vertaling deur Edward Spelman (1758) (beskikbaar by Google Boeke)
  • Vert. Earnest Cary, Drukpers van Harvard-universiteit, Loeb-klassieke Biblioteek:
    • Roman Antiquities, I, 1937.
    • Roman Antiquities, II, 1939.
    • Roman Antiquities, III, 1940.
    • Roman Antiquities, IV, 1943.
    • Roman Antiquities, V, 1945.
    • Roman Antiquities, VI, 1947.
    • Roman Antiquities, VII, 1950.
  • Vert. Stephen Usher, Critical Essays, I, Drukpers van Harvard-universiteit, 1974, ISBN 978-0-674-99512-3
  • Vert. Stephen Usher, Critical Essays, II, Drukpers van Harvard-universiteit, 1985, ISBN 978-0-674-99513-0

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Dionusios van Halikarnassos, Romeinse Oudhede Boek I, Hoofstuk 6
  2. 2,0 2,1 2,2 Sandys, J.E. (1894). A Dictionary of Classical Antiquities. London, GB. p. 190.{{cite book}}: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)
  3. "Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon, παιδεία". www.perseus.tufts.edu.
  4. 4,0 4,1 Hidber, T. (31 Oktober 2013). Wilson, N. (red.). Encyclopedia of Ancient Greece. Routledge. p. 229. ISBN 978-1136787997. Besoek op 7 September 2015.
  5. Schmitz, Leonhard (1867). "Dionysius, Aelius". In Smith, William (red.). Dictionary of Greek and Roman Biography and Mythology. Vol. 1. Boston. p. 1037.{{cite book}}: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)
  6. The Roman Antiquities of Dionysius of Halicarnassus. Loeb-klassieke biblioteek. Vol. I. Chicago, IL: Universiteit van Chicago. 29 Maart 2018 [1937] – via Penelope, Universiteit van Chicago.
  7. Gabba, E. (1991). Dionysius and the History of Archaic Rome. Berkeley, CA.{{cite book}}: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)
  8. 8,0 8,1 Usher, S. (1969). The Historians of Greece and Rome. Londen, GB. pp. 239–241.{{cite book}}: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)
  9. 9,0 9,1 9,2 Ruthven (1979) pp. 103–104
  10. Jansen (2008)
  11. S F Bonner, The Literary Treatises of Dionysius of Halicarnassus (2013) p. 39
  12. J Burrow, A History of Histories (Penguin 2009) p. 101 en 116
  13. Dionusios van Halikarnassos, Romeinse Oudhede Boek I, Hoofstuk 79
  14. Dionusios van Halikarnassos, Romeinse Oudhede Boek I, Hoofstuk 84
  15. Dionusios van Halikarnassos, Romeinse Oudhede Boek I, Hoofstuk 85
  16. Dionusios van Halikarnassos, Romeinse Oudhede Boek I, Hoofstuk 87
  17. T P Wiseman, Remembering the Roman Republic (2011) p. xviii-ix
  18. 18,0 18,1 T P Wiseman, Remembering the Roman Republic ( 2011) bl. xviii
  19. T P Wiseman, Remembering the Roman Republic (2011) p. ii
  20. R Hexter ed., Innovations of Antiquity (2013) p. 164
  21. Dionusios van Halikarnassus, Romeinse Oudhede Boek II, Hoofstuk 12
  22. G Miles, Livy (2018) p. 197
  23. Dionusios van Halikarnassus, Romeinse Oudhede Boek II, Hoofstuk 46
  24. 24,0 24,1 Dionusios van Halikarnassus, Romeinse Oudhede Boek II, Hoofstuk 56
  25. Cowan, J. Andrew (14 Junie 2018). "A Tale of Two Antiquities: A Fresh Evaluation of the Relationship between the Ancient Histories of T. Flavius Josephus and Dionysius of Halicarnassus". Journal for the Study of Judaism. 49 (4–5): 475–497. doi:10.1163/15700631-12493228. ISSN 1570-0631.
  26. 26,0 26,1 26,2 Chisholm 1911.

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Bonner, S. F. 1939. The literary treatises of Dionysius of Halicarnassus: A study in the development of critical method. Cambridge, Verenigde Koninkryk: Drukpers van die Universiteit van Cambridge.
  • Damon, C. 1991. Aesthetic response and technical analysis in the rhetorical writings of Dionysius of Halicarnassus. Museum Helveticum 48: 33–58.
  • Dionysius of Halicarnassus. 1975. On Thucydides. Vertaal, met kommentaar deur W. Kendrick Pritchett. Berkeley en Londen: Drukpers van die Universiteit van Kalifornië.
  • Gabba, Emilio. 1991. Dionysius and the history of archaic Rome. Berkeley: Drukpers van die Universiteit van Kalifornië.
  • Gallia, Andrew B. 2007. Reassessing the 'Cumaean Chronicle': Greek chronology and Roman history in Dionysius of Halicarnassus. Journal of Roman Studies 97: 50–67.
  • Jonge, Casper Constantijn de. 2008. Between Grammar and Rhetoric: Dionysius of Halicarnassus On Language, Linguistics and Literature. Leiden: Brill.
  • Jonge, Casper C. de, en Richard L. Hunter (red.). 2018. Dionysius of Halicarnassus and Augustan Rome. Cambridge: Drukpers van die Universiteit van Cambridge.
  • Palla, Alessandra (2023). La seconda epistola ad Ammeo di Dionigi di Alicarnasso: studi sulla tradizione manoscritta. Wiesbaden: Dr. Ludwig Reichert Verlag. ISBN 9783954905379.
  • Sacks, Kenneth. 1986. Rhetoric and speeches in Hellenistic historiography. Athenaeum 74: 383–95.
  • Usher, S. 1974–1985. Dionysius of Halicarnassus: The critical essays. 2 vols. Cambridge, MA, en Londen: Drukpers van Harvard-universiteit.
  • Wiater, N. 2011. The ideology of classicism: Language, history and identity in Dionysius of Halicarnassus. Berlyn en New York: De Gruyter.
  • Wooten, C. W. 1994. The Peripatetic tradition in the literary essays of Dionysius of Halicarnassus. In: Peripatetic rhetoric after Aristotle. Edited by W. W. Fortenbaugh and D. C. Mirhady, 121–30. Rutgers University Studies in Classical Humanities 6. New Brunswick, NJ: Transaction.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]