Belgorod-oblast
Belgorod-oblast Белгородская область | ||||
Die ligging van Belgorod-oblast in Rusland. | ||||
Politieke status | ||||
Land | Russiese Federasie | |||
Federale distrik | Sentrale | |||
Ekonomiese streek | Sentrale Swartgrond | |||
Stigting | 6 Januarie 1954 | |||
Regering | ||||
Hoofstad | Belgorod | |||
Leier | Jewgeni Sawtsjenko[1] | |||
Amp | Goewerneur | |||
Wetgewer | Oblast-doema | |||
Bevolking | ||||
Sensus | 2010 | |||
Totaal | 1 532 526 | |||
Volgorde | 28ste | |||
Digtheid | 56,55/km² | |||
Stedelik | 66,1% | |||
Plattelands | 33,9% | |||
Statistiek | ||||
Oppervlakte | 44 100 km² | |||
Volgorde | 67ste | |||
Tydsone | UTC+04:00 | |||
Registrasienommer | 31 | |||
Amptelike tale | Russies | |||
Webtuiste | http://www.belregion.ru/ | |||
Wapen en vlag | ||||
|
Belgorod-oblast (Russies: Белгоро́дская о́бласть, Belgorodskaja oblast) is ’n deelgebied van Rusland. Dit lê in die Sentrale Federale Distrik en die hoofstad is Belgorod.
Die bevolking in 2010 was 1 532 526.[2]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Met die wisseling van die 17de eeu is ’n aaneenlopende, 800 km lange linie militêre versterkings in die gebied gebou. Oekraïense Kosakke, wat hierheen getrek het om weg te kom van die adel en belasting, was in beheer van die verdediging van die linie. Van 1648 tot 1657 en van 1659 tot 1679, tydens opstande, het nog meer Kosakke na die streek getrek. Belgorod het die militêre en administratiewe hoofstad geword nadat dit eers ’n buitepos aan die Russiese suidgrense was.
Van 1708 tot 1727 was die gebied van die moderne Belgorod-oblast deel van die Kiëf- en die Azof-goewernement. In 1727 is die Belgorod-goewernement gestig uit dele van die Kiëf-goewernement. Dit het tot in 1779 bestaan en het ook dele van die moderne Koersk-, Orjol-, Brjansk- en Charkif-oblast ingesluit.
Ná die ondertekening van die Verdrag van Brest-Litofsk in April 1918 is die gebied in Januarie 1919 onder hetman Pawlo Skoropadski in die Oekraïense Staat opgeneem.
Die huidige grense van die oblast is op 6 Januarie 1954 vasgestel. In 2007 het die stad Belgorod die eretitel "Stad van Militêre Glorie" gekry.
Geografie
[wysig | wysig bron]Belgorod-oblast is deel van die ekonomiese streek Sentraal-Swartgrond en die Sentrale Federale Distrik. Dit grens in die suide en weste aan Loehansk-, Charkif- en Soemi-oblast van Oekraïne, in die noorde en noordweste aan Koersk-oblast en in die ooste aan Woronezj-oblast. Die totale lengte van sy grense is sowat 1 150 km, waarvan 540 km aan Oekraïne grens.
Die oblast beslaan 27 100 km². Dit is geleë aan die suidelike en suidwestelike hange van die Russiese Hoogland in die stroomgebied van die Dnieper- en Donrivier, en is sowat 200 m bo die seevlak. Die hoogste punt is 277 m bo die seevlak, in die Prochorofski-distrik. Die laagste punt is aan die onderkant van die Oskol- en die Sewerski Donetsriviervallei.
Meer as 40% van die bekende ysterertsreserwes van Rusland is in dié oblast. Daar is ook ondergrondse mineraalwater en boumateriaal soos kalk, sand, klei ens. Goud, grafiet en ander skaars metale kom ook voor.
Die plantegroei word gekenmerk deur die afwisseling van woude en steppe. Daar is altesaam 1 284 floraspesies. Woudlande bedek 9,8% van die totale oppervlakte, en meer as 800 hektaar word as beskermde gebiede geklassifiseer omdat die skaars plantspesies en dierhabitats op die IUBN-rooilys is.
Riviere, mere en moerasse maak sowat 1% van die streek uit. Daar is meer as 480 klein riviere en strome. Die grootste is in die noordweste (Sewerski Donets, Worskla, Worsklitsa, Psjol) en die ooste (Oskol, Tichaja Sosna, Tsjornaja Kalitwa en Waloei). Die riviere is saam sowat 5 000 km lank.
Demografie
[wysig | wysig bron]Belgorod-oblast is redelik dig bevolk; dit beklee die 67ste plek van die Russiese deelgebiede wat oppervlakte betref en die 28ste plek wat bevolking betref (2010-sensus).[2] Die stedelike bevolking is 66,1% en die plattelandse bevolking 33,9%. Altesaam 46% van die bevolking is ekonomies aktief.
Soos in ander dele van die Europese deel van Rusland ná die verbrokkeling van die Sowjetunie, is daar ’n afname in bevolking (sowat -5 per 1 000). Die streek se bevolking bly egter redelik stabiel danksy die immigrasie van werkers uit die noorde en Oekraïne. Immigrante kom ook uit Azerbeidjan en Oesbekistan.[3]
Etnisiteit:
- Russe 94,4%
- Oekraïners 2,8%
- Armeniërs 0,5%
- Azerbeidjanners 0,3%
- Turkse volke 0,3%
- Ander 1,7%
Ekonomie
[wysig | wysig bron]Belgorod-oblast is ’n hoogs ontwikkelde nywerheids- en landboustreek, en die ekonomie steun op die groot rykdom aan mineralebronne en die unieke swart grond (tsjernozjom).
Sowat 70% van die landbougrond bestaan uit tsjernozjom.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (ru) Amptelike webtuiste van Belgorod-oblast. Jewgeni Stepanowitsj Sawtsjenko Geargiveer 25 Februarie 2012 op Wayback Machine
- ↑ 2,0 2,1 Russiese Staatstatistiekdiens (2011). "Всероссийская перепись населения 2010 года. Том 1; Russiese Bevolkingsensus 2010, Vol. 1" (in Russies). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 April 2020. Besoek op 29 Junie 2012.
- ↑ Demoscope Weekly
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Belgorod-oblast.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia