Gaan na inhoud

Veranderingsbestuur

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die term veranderingsbestuur (Engels: change management) verwys na alle take, maatreëls en aktiwiteite in verband met omvattende en verreikende veranderings in 'n organisasie wat deur middel van nuwe strategieë, strukture, stelsels, prosesse of gedragskodes bewerkstellig word.

Historiese ontwikkeling van veranderingsbestuur

[wysig | wysig bron]

Moderne teorieë op die gebied van veranderingsbestuur het hulle oorsprong in die Amerikaanse organisasie-ontwikkeling van die 1930's. Twee navorsers, Roethlisberger en Mayo, het destyds eksperimente in verband met prestasieverhoging in aanlegte van die maatskappy Western Electric uitgevoer. Uit die ondersoek het dit geblyk dat die prestasie van medewerkers sterker deur die aandag, wat aan hulle geskenk is, beïnvloed is as deur pogings om hul werkstoestande te verbeter.

Kurt Lewin het in die veertigerjare van die 20ste eeu verdere ondersoek oor dié onderwerp gedoen. Die sogenaamde pionierteorie, wat hy in 1947 en 1958 ontwikkel en aan die publiek bekend gestel het, het in die bestek van die organisasieteorie met die 3-fase-model 'n algemene beskrywing van die verskillende fases tydens 'n veranderingsproses gelewer.[1]

Basiese terme en beginsels

[wysig | wysig bron]
  • Organisasie-ontwikkeling (Engels: Organization Development, Planned Change) verwys na "beplande verandering" in die verskillende afdelings van 'n organisasie wat op middel- en korttermyn plaasvind. Met ontwikkeling as die hoofbeginsel van verandering val die klemtoon op die strukture, mense en die bestuurskultuur van 'n organisasie. Die konsep skenk sowel aandag aan harde faktore soos strukture, finansies en bestuurstelsels asook sagte faktore soos kommunikasie, leierskap en samewerking. Aktiewe deelname van bestuursleiers en medewerkers by die veranderingsproses word bevorder, en daar word aandag geskenk aan alle soorte konflikte en weerstand in verband met die implementering van verandering om konstruktiewe oplossings te ontwikkel. Medewerkers word voortlopend opgelei om alle veranderingsprosedures te kan volg. Met die vinnige maatskaplike, ekonomiese en sosiale veranderinge wat deesdae plaasvind word hierdie klassieke konsep tans net in enkele gevalle toegepas.[2]
  • Veranderingsbestuur is 'n moderne versamelterm vir veranderings in organisasies wat op kort- tot middeltermyn plaasvind, maar verwys nie na 'n spesifieke strategie nie. Hierby word die klemtoon op uitbesteding, herstrukturerings, ekonomiese herstel, kostebesparings-programme en die optimalisering van sakeprosesse gelê. Veranderings word dikwels onder hoë tydsdruk toegepas, en groot maatskappye maak gewoonlik gebruik van professionele dienste wat deur konsultasiemaatskappye aangebied word. Die tegnokratiese manier van verandering, wat deur konsultante toegepas word, neem gewoonlik ekonomiese belange as grondslag, sodat soms kollaterale skade in die kulturele sfeer en op personeelvlak berokken word.[3]
  • Algehele transformasie raak die markposisionering, sake-velde, strukture en sakekultuur van 'n onderneming en word gewoonlik slegs deur 'n oorheersende en charismatiese leierspersoonlikheid toegepas. Voorbeelde van maatskappye of bedrywe wat algehele transformasie ondergaan het sluit byvoorbeeld General Electric en die Switserse horlosiesbedryf in, met leiersfigure soos Jack Welch, Nicolas Hayek en Lee Iacocca.[4]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Kurt Lewin (1947): Frontiers in group dynamics. In: Human Relations, 1, bl. 5-41
  2. Klaus Doppler en Christoph Lauterburg: Change Management. Den Unternehmenswandel gestalten. Frankfurt/New York: Campus Verlag 2008, bl. 100
  3. Doppler/Lauterburg (2008), bl. 100
  4. Doppler/Lauterburg (2008), bl. 100