Strand, Wes-Kaap
Strand | |
---|---|
Voorstad | |
Strand se kusgebied en gholfbaan. | |
Koördinate: 34°07′S 18°49′O / 34.117°S 18.817°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Metropolitaanse Munisipaliteit | Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit |
Stigting | 1714 |
Oppervlak | |
• Totaal | 21,36 km2 (8,25 vk. myl) |
Bevolking | |
• Totaal | 55 558[1] |
• Digtheid | 2 600/km2 (7 000/vk. myl) |
Tydsone | UTC+2 (SAST) |
Poskode | 7139 (Busse) 7140 (Strate) |
Skakelkodes | 021 |
Strand is 'n groot dorp en strandoord in Valsbaai in die Helderberg-substreek van die Kaapstadse Metropool. Die nedersetting het 'n merendeels Afrikaanssprekende bevolking van 55 000 en dateer uit die Nederlandse Ryk, daar dit in 1714 as 'n vissersoord tot stand gekom het.
Strand grens aan Somerset-Wes en Gordonsbaai en is sowat 48 km van Kaapstad geleë.
Naam
[wysig | wysig bron]Strand is in 1850 Van Ryneveld's Town genoem deur landdros D.J. van Ryneveld van Stellenbosch, wat grond daar gekoop het. Die dorp het in latere jare ook bekend gestaan as "Hottentots-Holland Strand", "Somerset-Strand" en "Die Strand". Laasgenoemde naam is in 1918 aan die dorp gegee en in 1937 is dit verkort tot net "Strand". Die dorp word egter gereeld nog na verwys as Die Strand. Munisipale status is in 1896 aan die dorp toegeken, nadat dit lank as 't ware die kusvoorstad van Somerset-Wes was.
Wapens
[wysig | wysig bron]Munisipaliteit (1) — Die munisipaliteit het in 1927 'n wapen in gebruik geneem: Gedeel, regs 'n blou 'n stralende son van goud; links golwend gedwarsbalk van silwer en blou, 'n swemmende goue vis; 'n goue skildhoof belaai met drie rooi torings. 'n Anker is agter die skild geplaas. Die wapenspreuk is "Inspirata floruit".[2][3]
Munisipaliteit (2) — Die wapen is in 1955 deur Ivan Mitford-Barberton verbeter en toe by die Kaapse Provinsiale Administrasie geregistreer: Deursnede, blou en golwend gedwarsbalk van silwer en blou, 'n rooi faas belaai met drie goue torings, in die skildhoof vergesel van 'n halwe uitkomende son en in die skildvoet van 'n swemmende vis, albei goud. Die helmteken was 'n rooi anker op 'n goue muurkroon. Die wapenspreuk het "Inspirata floruit" gebly.[4] Die wapen is in 1993 by die Buro vir Heraldiek geregistreer.[5]
NG gemeente
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: NG gemeente Die Strand.
In 1904 het ds. W. Conradie 'n beroep as tweede leraar van die gemeente Somerset-Wes, met werkkring Somerset-Strand, aangeneem. Die gemeente-wyk het vinnig ontwikkel en kon op 12 Junie 1906 van Somerset-Wes afstig, maar foutiewe prosedure met die stigting het die kansellering daarvan genoodsaak.
Met die ringsitting van 1907 het ds. Conradie 'n memorie van belanghebbendes ingedien waarin die stigting as ongewens verklaar word. 'n Spesiale ringskommissie het in dieselfde jaar rapporteer dat, hoewel die stigting wenslik was, dit onder die omstandighede nie aanbeveel kon word nie. Die gemeente "Het Strand" is daarna op 22 Augustus 1912 met 200 lidmate en 'n sieletal van 450 afgestig.
Die kerkgebou is in September 1930 ingewy. Die gemeente is 'n jaar vantevore "Strand" herdoop toe weggedoen is met die "Het". Die gemeente, soos die dorp, het aanvanklik nie vinnig gegroei nie. In 1933 was hier maar 559 lidmate. Daarna het die getalle vinnig toegeneem tot 2 060 in 1950, met 'n sieletal van 2 990. Die eerste medeleraar is eers in 1950 beroep.
Deur die jare is drie ander gemeentes op die dorp gestig: Strand-Noord (1952), en Lourensrivier-Strand en Suider-Strand (albei in 1972). In 2007 het die vier gemeentes saam 8 049 lidmate gehad.
Bevolking
[wysig | wysig bron]Volgens die nasionale sensus van 2011 het Strand 'n bevolking van ietwat meer as 55 000.[1]
51% van die bevolking is Kleurlinge, 34,2% is Blankes, 11,6% Swart, en 1% Indiërs of Asiërs. Twee persent van die bevolking klassifiseer hulself as "ander".[1]
Die wydsgesproke huistaal in Strand is Afrikaans (77%), gevolg deur Engels (14%) en Xhosa (2%). Vier persent van die bevolking het nie een van die elf amptelike landstale of Suid-Afrikaanse gebaretaal as huistaal nie.[1]
Onderwys
[wysig | wysig bron]Sedert 2007 is daar 19 staats- en privaatskole van pre-primêr tot sekondêr in die Strand. Die grootste hoërskool is die Afrikaanstalige Hoërskool Strand. Die plaaslike tersiêre onderwysinstelling is Boland Kollege. Die naaste universiteit is Akademia, wat 'n studiesentrum in die aangrensende Somerset-Wes het.
Infrastruktuur
[wysig | wysig bron]Vervoer
[wysig | wysig bron]Strand word bedien deur die N2 nasionale pad. Die R44 wat in Gordonsbaai die toeriste-aantreklikheid Clarence-rylaan word, loop deur die nedersetting tot verby Stellenbosch. Die laaste treinstasie van Metrorail se Noordelike Lyn, met treine van Kaapstad, is die Strand-stasie. Spoorpendelaars tussen Strand en Stellenbosch wissel treine by Eersterivier. Die plaaslike minibushalte is neffens die Van der Stel-treinstasie.
Die naaste hawe en marina is Harbour Island in Gordonsbaai.
Gesondheidsorg
[wysig | wysig bron]Die Paardevlei Privaathospitaal is in die historiese Paardevlei-distrik, naby die ou dinamietarea en oorkant die Strand Gholfbaan, geleë.
Besienswaardighede
[wysig | wysig bron]Strand se naam is afgelei van sy gewilde strand met kilometers wit sand en volop veilige swemplekke. Strand is 'n gewilde bestemming vir branderplankryers.
Noemenswaardige inwoners
[wysig | wysig bron]- Ingrid Jonker, digter
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 Hoofplek Strand 2011-sensus
- ↑ Wes-Kaapse Argief : Strand Munisipale Notules (24 Februarie 1927).
- ↑ Die wapen kom voor op 'n herdenkingspenning wat in 1928 uitgereik is.
- ↑ Kaap die Goeie Hoop Amptelike Koerant 2771 (19 Augustus 1955).
- ↑ National Archives of South Africa: Data of the Bureau of Heraldry.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Burman, Jose: The False Bay Story. Kaapstad: Human & Rousseau,1977. ISBN 0-7981-0777-4
- Phil Olivier (samesteller), Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers, 1952
- Raper, P.E., Dictionary of South African Place Names, Lowry Publishers, Johannesburg, 1987
- Tredgold, Arderne: Bay between the mountains. Kaapstad: Human & Rousseau, 1995. ISBN 0-7981-3424-0