Huis van die Swartkoppe
Die eerste historiese verwysing na die Huis van die Swartkoppe op die Raadhuisplein in Riga, Letland kom reeds in 'n dokument van 1334 voor waar na die gebou as die "Nuwe Huis van die Groot Gilde" verwys word.
Die huis is sowel deur koopmanne asook die merendeels Duitse burgers van Riga vir vergaderings gebruik. Die huis in die Gotiese styl het met sy steil geweldak en sy 27 meter hoë nok die tipiese voorkoms van 'n Middeleeuse woonhuis. Die gewelfasade van die huis is volgens die voorbeeld van Hollands-Vlaamse gildehuise omgebou en ryk versier met skulpture en reliëfs. Die Huis van die Swartkoppe is in 1941 deur Duitse bombardement vernietig en sy bouvalle in 1948 onder meer om ideologiese redes opgeblaas. Dit is tussen 1993 en 1999 volgens die historiese bouplanne heropgerig en tans weer 'n simbool en een van die hoofbesienswaardighede in die Letlandse hoofstad.
Oorsprong van die naam
[wysig | wysig bron]Die Compagnie der Schwarzen Häupter ("Kompanjie van Swartkoppe") het uit die laat 13de eeuse Broederskap van Sint Joris ontstaan. Dit was 'n vereniging van jong ongetroude buitelandse koopmanne wat in Riga gebly het, maar nie oor dié stad se burgerskap beskik het nie. Sint Joris, die beskermer van ridders en krygers, was ook die Komphanjie se beskermheilige. Later het Sint Maurits hierdie rol vervul, en so verskyn ook sy simbool, die moorkop, op die Swartkoppe se wapen.
Die Kompanjie se statuut van 1416 het bewaar gebly. Die Kompanjie van Swartkoppe bestaan nog steeds en het sy setel in Bremen, Noord-Duitsland. Sy lede eerbiedig steeds die historiese statuut.
Die Raad van Riga het die paradesaal in die boonste verdieping van die gebou in 1447 aan die Swartkoppe verhuur. Die naam "Huis van die Swartkoppe" het eers vanaf 1687 gebruiklik geword, en die huis was eers vanaf 1713 in die besit van die Kompanjie.