Biarritz
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Frankryk |
Région (gewes) | Nieu-Akwitanië |
Département | Pyrénées-Atlantiques |
Koördinate | 43°29′N 1°33′W / 43.483°N 1.550°W |
Stigting | |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 11,66 vk km |
Hoogte bo seevlak | 0-85 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2016) | 24 777 |
- Bevolkingsdigtheid | 2 125/vk km |
- Metropolitaanse gebied (2011) | 213 969 |
Tydsone | UTC +1 |
- Somertyd | UTC +2 |
Burgemeester | Michel Veunac |
Amptelike webwerf | biarritz.fr |
Biarritz [bjaʀits] (Oksitaans: Biàrritz [biˈarrits], Baskies: Miarritze) is 'n stad aan die Golf van Biskaje en belangrike toeristesentrum in die Franse Baskeland (département Pyrénées-Atlantiques en région Nieu-Akwitanië) met 'n oppervlak van 11,66 vierkante kilometer en 24 777 inwoners (2016) wat in Frans les Biarrots genoem word.
Nog tot in die laat 19de eeu was Biarritz 'n klein vissersdorp en 'n basis vir walvisjagters. Eers toe strandvakansies gewild geraak het, het 'n plaaslike toerismebedryf begin ontwikkel. Die bou van spoorweë en die bekendheid wat persoonlikhede soos Napoléon III en sy eggenote, koningin Eugénie, aan Biarritz besorg het, was die dryfkrag agter die vinnige opswaai van die toerismesektor.
Die natuurskoon en die buitengewone ligging tussen die Atlantiese Oseaan en die Pireneë het van Biarritz 'n eersterangse vakansiebestemming gemaak wat steeds as een van die mees elegante strandoorde langs die Atlantiese kus van Frankryk beskou word.
Sy groot strand, die Grande Plage, was vroeër 'n belangrike verblyfplek vir Europa se adellike vakansiegangers. Die stad is derhalwe ook die "konings se strandoord" genoem. Talle huise, wat volgens die Art-Déco-boustyl ontwerp is, en 'n wye verskeidenheid luukse modewinkels het aan Biarritz die bynaam "Parys van die Suide" besorg.
Danksy die Amerikaanse draaiboekskrywer Peter Viertel en sy rolprent The Sun Also Rises het Biarritz met sy magtige branders sedert 1957 ook tot 'n eersterangse bestemming vir branderplankryers ontwikkel.
Geografie en klimaat
[wysig | wysig bron]Biarritz is in die département Pyrénées-Atlantiques in die suidweste van Frankryk, sowat agtien kilometer van die Spaanse grens af geleë. Die stadsgebied strek oor 'n reeks heuwels langs die Atlantiese kus. Kaap Sint-Maarten (Frans: le cap Saint-Martin) met Biarritz se vuurtoring vorm die grens tussen die sanderige kuslyn noord van Biarritz, wat van die uiterste punt van die Gironde tot by die dorp Anglet strek, en die rotsige kuslyn van die Baskeland in die suide.
Die stad se natuurskoon word veral gekenmerk deur die rotsbanke in die omgewing van die seehawe en die sandstrande. Biarritz beskik oor vyf veilige sandstrande en vyf gholfbane.
Biarritz strek oor 'n aantal baaie en vyf strande: die Groot Strand (la Grande Plage), die Miramar-strand (la Plage de Miramar), die Côte des Basques (Baske-kus), die Port-Vieux-strand en die Marbella-strand (la Plage de Marbella). Aangrensende dorpe is Anglet in die noorde, Bidart in die suide en Arbonne in die suidooste.
Biarritz se klimaat staan onder die invloed van vogtige Atlantiese seewinde en plaaslike warm lugstrome. Met die uitsondering van enkele winterstorms is reënvalle langs die Baskiese kus nie langdurig nie. Baie gematigde winters en aangename somers met baie sonskynure sonder drukkende hitte maak van Biarritz dwarsdeur die jaar 'n gewilde toeristebestemming.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die oorspronklike Middeleeuse naam van Biarritz was Beariz. Tot by die middel van die 19de eeu was Biarritz 'n onbenullige klein vissersdorpie in die Franse Baskeland, wat sedert die 11de eeu veral op walvisvangs gesteun het. Biarritz se wapen wys nog steeds 'n tipiese bark wat vir die walvisvangs gebruik is.
Die dorp het uit twee wyke bestaan waarvan een rondom die Sint-Maartens-kerk (église Saint-Martin) geleë was. Die tweede was die vissershawe (Port-Vieux) met die kasteel van Belay (of Ferragus). Die dorpsbevolking was oorspronklik van Baskiese afkoms, maar sedert die 14de eeu het ook Gaskoniese vissers hulle in Biarritz gevestig. Die eerste vuurtoring in die dorp, wat tot en met 1790 deel uitgemaak het van Labourde, is reeds in 1650 opgerig.
Vanaf 1784 het strandvakansies geleidelik gewild geraak, en Napoléon Bonaparte was die eerste bekende persoonlikheid wat hier in 1808 gaan swem het. Die skrywer Victor Hugo het in 1843 'n besoek aan Biarritz gebring en toe al opgemerk dat dit tot 'n gewilde strandoord sou kon ontwikkel.
Maar dit was Eugénie, die eggenote van keiser Napoléon III, wat in 1854 twee maande lank in Biarritz gekuier en sodoende wye bekendheid aan die nedersetting besorg het. Napoléon het 'n E-vormige somerpaleis aan die strand vir Eugénie laat oprig (die gebou bestaan steeds as Hôtel du Palais), en die egpaar het ook in die volgende jare die somermaande gereeld in Biarritz deurgebring. Die nedersetting het sodoende ook belangstelling by ander Europese koningshuise gewek, en so het ook Britse koninklike gesin begin om hier hulle somervakansies deur te bring. Die lys van bekende gaste het al hoe langer geword en onmder meer koningin Victoria, Edward III, en die Spaanse koning Alfonso XIII ingesluit. Na Biarritz is destyds verwys as "la reine des plages et le plage des rois" ("die koningin van die strande en die strand van die konings").
Die destydse Pruisiese rykskanselier Otto von Bismarck het hier in September 1865 vir Louis-Napoléon Bonaparte ontmoet en samesprekings met hom gevoer om die Franse keiser se goedkeuring en ondersteuning vir Pruise se buitelandse beleid te kry. Uit hierdie tydperk dateer ook 'n aantal kenmerkende geboue soos 'n Ortodokse kerk met 'n blou geverfde koepel wat in die tyd voor die Oktober-rewolusie van 1918 by adellike Russiese besoekers gewild was.
Biarritz is tydens die Tweede Wêreldoorlog tussen 28 Junie 1940 en 20 Augustus 1944 deur Duitse magte beset. Hulle het in 1940 die sogenaamde Atlantikwall, 'n reusagtige verdedigingslinie, langs die rotskus van Biarritz opgerig. Op 27 Junie 1940 het Duitse troepe ook die Baskiese Kus beset, en oorlogskepe van die Duitse Vloot het teen die begin van Julie hier aangekom. As Duitse vloothawe was Biarritz 'n teiken vir geallieerde bomwerpers wat op 27 Maart 1944 'n aanval op die stad en sy hawe geloods het. Die Amerikaanse bombardering het in verskeie stadskwartiere groot skade berokken en 'n honderdtal lewens geëis.
Ekonomie
[wysig | wysig bron]Biarritz se ekonomie steun veral op toerisme, sport (gholf en branderplankry) en thalassoterapie. Saam met die aangrensende stede Anglet en Bayonne het Biarritz die metropolitaanse gemeenskap (Frans: communauté d'agglomération) "BAB" gestig, en die drie stede bestuur ook gesamentlik die lughawe van Biarritz-Anglet-Bayonne.
Sport en vermaak
[wysig | wysig bron]Biarritz se Art déco-kasino is op 10 Augustus 1901 geopen. Teen die einde van die 19de eeu het Britte die gholfsport in Biarritz ingevoer, terwyl die draaiboekskrywer Peter Viertel, wat met sy eggenote Deborah Kerr in 1957 na Biarritz gekom het om sy rolprent The Sun Also Rises te skiet, hier 'n Kaliforniese branderplank gery het en van Biarritz ook 'n gewilde internasionale bestemming vir branderplankry-geesdriftiges gemaak het. Danksy die hoë branders van die Golf van Biskaje vind in Biarritz gereeld branderplankry-kompetisies plaas. Biarritz word dikwels «la capitale européenne du surf» (Europese Branderplankry-hoofstad) genoem.[1]
Die belangrikste sportvereniging is Biarritz Olympique, wat veral vir sy rugbyspan bekend staan. Ander gewilde sportsoorte in Biarritz naas branderplankry en rugby sluit gholf en die Baskiese nasionale sport, pelota, in.
Verwysings
[wysig | wysig bron]Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Die amptelike webwerf van Biarritz Geargiveer 2 Februarie 2007 op Wayback Machine
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Biarritz.