Chingola
Chingola | |
---|---|
Koördinate: 12°32′0″S 27°51′0″O / 12.53333°S 27.85000°O | |
Land | Zambië |
Provinsie | Koperstreek |
Distrik | Chingola |
Hoogte | 1 363 m (4 472 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 157 340 |
Tydsone | UTC+2 (SAST) |
Chingola is 'n stad in Zambië se Koperstreek-provinsie. Dit is gemiddeld 1 400 meter bo seespieël geleë en het in 2006 'n bevolking van 148 554 gehad. Dit is die setel van die gelyknamige distrik, waarvan die bevolking volgens die sensus van 2000 172 026 was. Die wêreld se naasgrootste oopgroefmyn, Nchanga, is naby die stad geleë.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Chingola is in 1943, ietwat later as die ander stede van die Koperstreek, in 'n beboste gebied aangelê en kry in 1957 munisipale status.
Ekonomie
[wysig | wysig bron]Chingola is hoofsaaklik 'n myndorp met ondergrondse sowel as oopgroefmyne. Nchanga-myn, die tweede grootste kopermyn ter wêreld, lê in 'n boog om die weste en noorde van die stad. Die diepste gedeelte van die groef is 400 meter laer as die res van die plato geleë.
Die stadsgebiede is nou met mekaar verbind en verdeel in verskeie buurte, waaronder Nchanga in die noorde en Kabundi, Riverside en Chiwempala in die suide. Die dalende prys van koper op die wêreldmark in die jare negentig het die stad se ekonomie nadelig geraak. Onlangs het die bedryf herleef met KCM (Konkola Copper Mines), 'n nuwe samesmelting van 'n Indiese en Zambiese maatskappy, wat nuwe lewe in die sektor geblaas het. Dit het ook die bou van nuwe skole en hospitale moontlik gemaak. Die meeste stadsdele het deesdae toegang tot lopende water en heelwat ook tot elektrisiteit. Maar die kragtoevoer in armer buurte word gereeld vir 'n paar ure onderbreek aangesien Zambië se enigste kragmaatskappy, ZESCO, nie genoeg kapasiteit gehad nie en ook nog baie van sy elektrisiteit aan buurlande verkoop. Die strate kort, soos byna oral in Zambië, aandag. Intussen stel mynmaatskappye herstelde grond aan nedersetters beskikbaar wat van elders in die land hierheen kom op soek na 'n beter heenkome.
Kultuur en toerisme
[wysig | wysig bron]Chingola het sy eie teater, wat dagteken van voor die land se onafhanklik, maar dit is vervalle en moet opgeknap word, soos trouens die openbare swembad ook. Chingola lok byna geen oorsese toeriste in die tradisionele sin van die woord nie en bied darem ook min aantreklikhede vir toeriste. Slegs die nabygeleë rehabilitasiesentrum vir sjimpansees, Chimfunshi, wat sowat 60 km noord van die stad geleë is, verdien melding.
Sport
[wysig | wysig bron]Die Nchanga Rangers is 'n sokkerklub in Chingola. Sy stadion bied sitplek aan 15 000 toeskouers.
Die sokkerspeler Andrew Sinkala, wat speel in die Duitse Bundesliga, is in 1979 in Chingola gebore.
Infrastruktuur
[wysig | wysig bron]Chingola is geleë op die Koperstreek-snelweg asook die spoorlyn na Kitwe. Dié snelweg verbind die stad ook met Lubumbashi in die nabygeleë Demokratiese Republiek van die Kongo. 'n Nuwe spoorlyn na Solwezi word in die vooruitsig gestel. Chingola het laer- en hoërskole, twee hospitale (die algemene hospitaal Nchanga North, met 283 beddens, en die private Nchanga South-hospitaal, wat deur die mynmaatskappye besit word en 100 beddens het), hotelle (waaronder 'n Protea-hotel en dié met mindere gradering) en word as die mees skilderagtige stad in die Koperstreek en dié met die beste infrastruktuur in Zambië beskou.[verwysing benodig] Chingola het sy eie vliegveld, maar slegs klein, binnelandse vliegtuie mag hier land en opstyg.