Gaan na inhoud

Carcassonne

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Carcassonne
Stad
Uitsig oor die Cité de Carcassonne
Uitsig oor die Cité de Carcassonne
Carcassonne is in Frankryk
Carcassonne
Carcassonne
Ligging van Carcassonne in Frankryk (in rooi)
Koördinate: 43°13′N 2°21′O / 43.217°N 2.350°O / 43.217; 2.350
LandVlag van Frankryk Frankryk
Région Languedoc-Roussillon
Département Aude
Regering
 • BurgemeesterGérard Larrat (DVD)
Oppervlak
 • Totaal65,08 km2 (25,13 vk. myl)
Hoogte
111 m (364 ft)
Bevolking
 • Totaal47 634
 • Digtheid732/km2 (1 900/vk. myl)
Webwerfwww.carcassonne.org

Carcassonne (Frans: [kaʁkasɔn], ; plaaslik: [kaχkaˈsɔnə]; Oksitaans: Carcassona, [kaɾkaˈsunɔ]; Latyn: Carcaso) is 'n stad in die suide van Frankryk geleë in die departement Aude en die regio Languedoc-Roussillon. Die stad is die prefektuur van Aude en is bekend vir die Cité de Carcassonne, 'n goedbewaarde Middeleeuse bouwerk wat as Wêrelderfenisterrein aangewys is deur Unesco in 1997.[1]

'n Lugaansig van die historiese middestad of cité

Die inwoners van die stad staan as les Carcassonnais bekend. In die omgangstaal staan die stad plaaslik algemeen as "Carca" bekend.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die vroegste verwysing dateer uit die eerste eeu v.C. as Carcasso (Caesar) en in die tweede eeu n.C. as Carcaso.[2] Plinius die ouere gebruik hierdie naam meer spesifiek in die vrase Carcaso Volcarum Tectosage.[3]

Die naam is moontlik ontleen aan die Indo-Europese wortel *kar "rots" en *kass, 'n moontlike Galliese woord met 'n onduidelike betekenis wat die radikaal van die woord eikebome sou wees: cass-anos, Languedoc-Oksitaans casse wat "voetvormige eikehout" sou beteken.[2] Dit word gevolg deur die agtervoegsel in beide Gallies en Latyn -ona met 'n vaag betekenis.

In Oksitaans is die stadsnaam direk afgelei van sy Latynse vorm wat Carcassona [karka'suno].

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Stigting

[wysig | wysig bron]

Carcassonne was reeds vroeg die ligging van 'n aktiewe prehistoriese nedersetting geleë naby die Atax (die Aude). Dit is in dié verband dat die toponiem Carcasso vir die eerste keer sy verskyning maak. Plinius die Ouere het die naam[4] in die eerste eeu na Christus gebruik, maar dit blyk dat die term reeds voor dit in die 5de eeu v.C. bestaan het.[5] Die oorspronklike ligging van Carcassonne was op die plato waar die A61-pad vandag loop. Dit is vervolgens in die 6de eeu om onbekende redes verplaas na die hedendaagse ligging van die Cité de Carcassonne. Aan die einde van die 2de eeu v.C. was die terrein al 'n oppidum met gragte wat die Galliese inwoners geherberg het. In 118 n.C het die Romeine die plek wat deur die Volques Tectosages-stam gevestig is ingeneem en versterkings aan die oppidum aangebring.

Vervolgens het die Wesgote die oppidum in die 5de eeu ingeneem,[6] daarna die Sarasene in die 8ste eeu wat dertig jaar lank in die omgewing vertoef het voor hulle deur die Franke verjaag is. Laasgenoemde het die naam Karkashuna agtergelaat. Ander name verskyn as Carcasona of Carcassione.[7] Ná die verbrokkeling van die Carolingiese Ryk, is 'n feodale era gevestig met die Trencavel-familie aan die hoof daarvan wat daar as 'n dinastie regeer het van die 11de eeu tot die 13de eeu. Carcassonne het vooruitgegaan en 'n belangrike strategiese plek die Languedoc verwerf.

Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Oorblyfsels van die Bastide wat tydens die heerskappy van Sint Lodewyk gebou is

Die Katharisme het Carcassonne bereik waar dit 'n groot aantal volgelinge binne die stadsmure verwerf het. Die Kathare is beskerm deur die burggraaf (vicomte) Raimond-Roger Trencavel, die stad het uit die pous se oogpunt 'n kettergebied geword. Gevolglik het die stad swaar deurgeloop onder die vure van die kruistog wat deur Simon de Montfort gelei is. In Augustus 1209 het die kruisvaarderleër Carcassonne beleër. Die twee burge het vinnig geval, hulle is afgebrand en in puin gelê. Die stadsmure van die Cité het die aanvallers weerstaan, droogte en dors het egter die oorgawe van die Burgraaf van Carcassonne na twee weke se beleëring afgedwing. Hy is onmiddellik in die tronk gestop waar hy spoedig vermoor is.[8] Na die inneming van die Cité is die grondgebied van die Trencavel aan 'n Baron in die noorde toegeken, die gevierde Simon de Montfort. Sy seuns het die gebied aan die koning van Frankryk geskenk wat dit in 1224 in die koninklike domein opgeneem het.[9]

Laasgenoemde gebeurtenis was van groot belang in die geskiedenis van Carcassonne. Ná die rebelliepoging van die Carcassonnais gelei deur die seun van die burggraaf Trencavel in 1240, het Sint Lodewyk die bevolking van die stad verjaag en het hulle toegelaat om hulle aan die ander oewer van die rivier te vestig: dit het gelei tot die stigting van 'n nuwe stad. 'n Bastide is vervolgens geskep onder die Cité de Carcassonne.[10] Carcassonne het daarna ontwikkel tot 'n stad met twee sentrums en ekonomiese en maatskaplike wedywering tussen die Cité en die Bastide. Geleidelik het die Bastide Saint-Louis ekonomies vooruitgegaan totdat dit die Cité verbygesteek het, wat al sy mag en politieke gesag verloor het.

Die onderste stad (ville basse) het in 1248 'n consulat, 'n middeleeuse plaaslike regeringsvorm, verkry. Ses konsuls het die stad regeer met die ondersteuning van stadsouderlinge. In die 14de eeu was die stad die eerste tekstielproduksiesentrum, waar die roumateriaal wol afkomstig uit die Montagne Noire en die Corbières gebruik is. Die produksie is uitgevoer na Konstantinopel of Alexandrië deur die groot Europese handelaars.[11] In 1348 is die stad soos die res van Europa deur die Swart Dood getref en die epidemie het herleef in die daaropvolgende eeu. In dieselfde tydperk het die Honderdjarige Oorlog talle rampe veroorsaak. Die Swart Prins het die onderste stad in 1355 deur brandstigting vernietig, maar die Cité de Carcassonne is gespaar.[12] 'n Beleg sou te lank neem en sou sy plundertog vertraag het. Die bastide is in 1359 heropgebou en versterk. Die tekstielnywerheid het herleef en verder ontwikkel.

Die 16de tot die 18de eeue

[wysig | wysig bron]
'n Kaart van Carcassonne uit 1780

Aan die begin van dié tydperk het die onderste stad vinniger gegroei as die Cité wat ook sy militêre rol verloor het. In 1531 het die protestantisme sy verskyning gemaak, maar die Calviniste is uit die ville basse, wat beter versterkings gehad het, verjaag. Dit het 'n basis geword vir die Katolieke wat in 'n stryd gewikkel was met die protestantse dorpies van die omgewing: Limoux, Bram, ens. Eskalering van die wedywering tussen die Cité en die ville basse het op die ou einde gelei tot die vernietiging van die ville basse. Aan die begin van 1560 is die Protestante van die stad uitgemoor.[13] Karel IX het die stad besoek tydens sy koninklike toer van Frankryk (1564-1566), vergesel van die hof en hoogeplaatstes in die koninkryk: sy broer die Hertog van Anjou, Hendrik van Navarre en die Kardinale van Bourbon en Lotharinge.[13]

In 1659 het die Verdrag van die Pireneë die grense van die provinsie Roussillon aan Frankryk toegeken, wat Carcassonne se militêre belangrikheid verminder het. Vestingwerke is verwaarloos en stadig maar seker het die Cité sy belangrikheid verloor met die oordrag van talle instansies na die ville basse wat toegeneem het. Die rykdom wat deur die handel in tekstiel bekom is, het die verfraaiing van die stad moontlik gemaak. Luukse geboue is opgerig, water is na die stad aangelê en plaveisel en beligting is op die strate aangebring wat die stad gemoderniseer het. Die ou stadsmure van die ville basse is in die 18de eeu gesloop en die Portail des Jacobins ("Hek van die Jacobins") is in die tydperk opgerig. Ongelukkig vir die stad het verskeie probleme die agteruitgang van dié enkele nywerheid tot gevolg gehad. Onder die Restaurasie is die aktiwiteite gemeganiseer en het salarisse erg geval. Die stad se tekstielnywerheid het ook gely onder die sterk groeiende kompetisie van die wynbou.

Tydens die Franse Rewolusie was die stad nouliks betrokke en die salarisse in die tekstielnywerheid het dramaties geval as gevolg van mededinging uit Engelens. Op 29 Januarie 1790 is die département Aude geskep en het Carcassonne die hoofstad van die streek geword.[14] Die prys van voedsel het egter steeds gestyg en hongersnood en algemene ontevredenheid het ontstaan.

Carcassonne het Carcassonne-Cité tussen 1795 en 1800 geabsorbeer.

Die 19de en 20ste eeue

[wysig | wysig bron]
Place Davilla in Carcassonne

In die 19de eeu het 'n verandering in mentaliteit posgevat ten opsigte van historiese monumente en pogings is aangewend om die Franse erfenis te restoureer en bewaar. Die Cité was geheel en al geruïneer en verwaarloos sou ondersteuning ontvang van die vakkundige uit die Aude en Carcassonne, Jean-Pierre Cros-Mayrevieille, wie ook ondersteun sou word deur Prosper Mérimée, die Inspekteur van geskiedkundige monumente. Die eerste restourasiewerk wat uitgevoer is was aan die Basiliek Saint-Nazaire-et-Saint-Celse.

Verskeie onteienings het gevolg, alle wonings wat in die lices (oop spasies tussen die binneste en buitense mure van die sitadel) gebou is, is gesloop en 'n deel van die bevolking is uit die Cité verwyder. 'n Halfeeu se werk het die grootste Middeleeuse versterking in die Weste tot sy 13de eeuse glorie herstel. Die argitek Viollet-le-Duc, 'n spesialis in Franse restourasie, het die leiding geneem in die restourasie. Hy het egter soms polemiek veroorsaak met sy restourasiekeuses en veral van sy persoonlike inisiatiewe. Die Cité de Carcassonne word egter wêreldwyd beskou as 'n toonbeeld van restourasiewerk: slegs 30% van die bouwerk was restourasie werk, veral dakke en inkepings langs die versterking se mure.

In 1907 het die wynmakers van Carcassonne deelgeneem aan die wynbouersopstand om aandag te vestig op die probleme in die wynbou in Languedoc. Herhalende bedrog deur sekere produsente, oorproduksie, skimmel en kompetisie het daartoe gelei dat hulle hulle frustrasie op die regering uitgehaal het wat aanvanklik nie opgetree het en wynbouregulasies in plek gestel het nie. Carcassonne het in September 2007 by die Confédération générale des vignerons (CGV, "Algemene konfederasie van wynbouers"), die belangrikste sindikaatverening aangesluit.[15]

In 1944 is die Cité de Carcassonne deur Duitse troepe beset wat die kasteel gebruik het as 'n bergplek vir ammunisie en plofstof. Die inwoners is uit die cité verban. Joë Bousquet, aanvoerder van die Erelegioen, was hoogs verontwaardig oor die besetting en het in 'n brief aan die prefek aangedring dat die cité, wat deur alle lande as 'n kultuurerfenis beskou is, vrygestel moes word.[16]

In 1997 het die Cité de Carcassonne bevestiging ontvang van die sitadel se klassifikasie as 'n wêrelderfenisterrein deur UNESCO en die onderste stad, "La Bastide Saint-Louis", as 'n bewaringsgebied. Vandag is dit met meer as drie miljoen toeriste een van die mees besoekte plekke in Europa.[17]

Geografie

[wysig | wysig bron]

Ligging

[wysig | wysig bron]
Kaart wat die ligging van Carcassonne aandui

Carcassonne is in die suide van Frankryk geleë, 80 km oos van Toulouse. Die stad se strategiese ligging op die roete tussen die Middellandse See en die Atlantiese Oseaan is reeds sedert die Neolitiese tydperk bekend. Die stad is geleë in 'n pas tussen die montagne Noire (Swartberge) in die noorde en die Corbières in die ooste, die Lauragais-vlakte in die weste en die Aude-vallei in die suide. Die natuurlike gebied word die Carcassès of le Carcassonnais genoem.

Die Aude met die Vieux-brug en die middeleeuse sitadel

Die oppervlak van die commune (munisipaliteit / distrik) is 65 km²; een van die groter munisipaliteite in vergelyking met die talle klein munisipaliteite van die Aude departement. Die naburige munisipaliteite is: Pennautier, Villemoustaussou, Villalier, Berriac, Villedubert, Trèbes, Montirat, Palaja, Cazilhac, Cavanac, Couffoulens, Lavalette, Roullens, Caux-et-Sauzens en Pezens.

Klimaat

[wysig | wysig bron]

Die weerstasie van Carcassonne-Salvaza verskaf reeds sedert 1948 daagliks verskeie weerparameters.[18] Maar gereelde meetings is reeds sedert 1849 op die inisiatief van Don de Cépian, 'n ingenieur van die département wat 'n reënmeter by Carcassonne opgerig het, geneem. Hierdie data verskaf kennis oor die weerstoestande aan die einde van die 19de eeu.

Die klimaat is tipies mediterreens. Dit word gekenmerk deur droë en warm somers en matige herfs en winter sonder ys en lentes met min reën. Sneeu is raar, dit val omtrent 7 dae per jaar tussen Desember en Maart en smelt baie gou. Yskoue dae kom baie selde voor.

Stad Sonskyn Reën Sneeu Donderweer Mis
Parys 1 797 h/jaar 642 mm/jaar 15 dae/jaar 19 dae/jaar 13 dae/jaar
Nice 2 694 h/jaar 767 mm/jaar 1 dae/jaar 31 dae/jaar 1 dae/jaar
Straatsburg 1 637 h/jaar 610 mm/jaar 30 dae/jaar 29 dae/jaar 65 dae/jaar
Carcassonne 2 190 h/jaar 695 mm/jaar 7 dae/jaar 19 dae/jaar 14 dae/jaar
Nasionale gemiddelde 1 973 h/jaar 770 mm/jaar 14 dae/jaar 22 dae/jaar 40 dae/jaar

Neerslag is die sterkste in van die herfs tot Oktober en in die lente in April. Somerreën kom as donderstorms voor wat soms geweldadig kan wees met hael wat wingerde kan beskadig.

Maande J F M A M J J A S O N D Jaar
Temperatuur (in die skadu, normaal) °C 5,9 7,2 9,1 11,7 15,3 19,1 22,1 21,5 19 14,8 9,6 6,7 13,5
Neerslag (1961-1990) 67,3 67,7 64,8 71,5 62,3 43,0 29,1 43,2 46,1 74,0 56,7 69,4 695,1
Bron: Météo France

Carcassonne is baie winderig en gemiddeld 117 dae per jaar waai die wind sterker as 55 km/h. Dit is die oostewind, die seewind of die westewind wat Cers genoem word.

Carcassonne het verskeie oorstromings van die Aude verduur in 1872 en 1875. Die oorstromings van die jaar 1891 is onder die belangrikste met water wat 8 m gestyg het[19] in die onderste kwartier van die stad. In Augustus 1912 is Carcassonne deur 'n tornado getref wat verwoesting gesaai het: onder meer is bome is ontwortel en dakke vernietig.

Vervoerverbindings

[wysig | wysig bron]
SNCF-stasie in Carcassonne
Agglo-busdiens in Carcassonne

Carcassonne is geleë op die hoofroete tussen Toulouse en die Middellandse See. Die Canal du Midi wat dateer uit die 17de eeu was vroeër 'n baie belangrike waterweg. Vandag loop die Autoroute des Deux Mers ("snelweg van die twee seë"), en meer spesifiek die oostelike tak van die A61 suid van die stad verby, wat direkte toegang aan Toulouse of Montpellier verskaf. Twee afritte ( sortie 23  en  sortie 24 ) bedien die munisipaliteit. Op die sekondêre netwerk oorkruis die departementele 6113 (vroeër RN 113) Carcassonne en verskaf dit verbindings aan Toulouse in die weste en Narbonne in die ooste. In die suide bied die departementele 118 'n pad deur die Audevallei om by Limoux uit te kom. In die noorde strek dieselfde pad 118 tot by die Montagne Noire en verbind dit die stad met Mazamet.

Carcassonne kan ook per trein bereik word te dank aan die Toulouse-Sète-spoorlyn, deur Narbonne. Die stad is ook verbind aan Quillan deur 'n gedeelte van die ou lyn Carcassonne-Rivesaltes. Carcassonne se stasie is geleë noord van die middestad naby oewer van die Canal du Midi. Dit is in 1857 gebou deur die Compagnie des chemins de fer du Midi ("Die Spoorwegmaatskappy van die Suide"). Die stasie se argitektuur is in die klassieke styl met 'n hoof deel en twee vleuels weerskante daarvan wat na agter strek en 'n klok aan die fasade sonder 'n tweede vloer.[20] Die bou van die stasie het die begin van toerisme na die Cité de Carcassonne aangedui. L'hôtel Terminus is in 1914 deur die argitek Belin ingewy en is 'n merkwaardige gebou in die kwartier om die stasie[21] waarvan die ontwikkelaar gebaat het by die instroming van toeriste.

Die lughawe Carcassonne Salvaza, herdoop na Aaéroport de Carcassonne en Pays Cathare in 2004, is suidwes van die stad geleë in die bedryfsgebied van Salvaza. Dit bied vlugte na die Verenigde Koninkryk (Londen, Liverpool en Nottingham), na Ierland (Dublin, Cork en Shannon) en na België (Charleroi) deur die lugredery Ryanair.[22] In 2002 is die lughawe toegelaat om sy hoofaanloopbaan langer te maak om groter vliegtuie te kan bedien. Die lughawe het in 2005 339 505 passasiers bedien en teen 2007 466 305: 'n styging van 37,4 % in twee jaar.[23],.[24]

In die middestad is die voorkeur vervoermiddel van die inwoners die motor. Die spitsverkeer in die omgewing is swaar, veral in die somer met die toestroming van toeriste. Die nasionale pad 113 wat direk in die stad in loop raak baie gou opeengehoop. 'n Eerste gedeelte van 'n westelike verbypad is in 1980 gebou wat 'n afrit na snelweg 23 en die nasionale pad 113 gebied het. Die noord-oos verbypad behoort in 2008 voltooi te word en sal toelaat dat die verkeer van die RN113 weggelei kan word deur 'n verbypad na die noorde. Hierdie padwerke het 'n brug oor die Auderivier genoodsaak.[25] In die middestad bied drie parkeergarages parkering.[26]

Elf busdienslyne deurkruis Carcassonne en verbind die stad met die lughawe.[27] Die Agglo Busmaatskappy bestuur gesamentlik al die busse van die agglomerasie van Carcassonne. Gedurende die somervakansie word die bastide Saint-Louis gratis bedien deur klein elektriese voertuie wat Les Toucs genoem word.

Terrein

[wysig | wysig bron]

Carcassonne is geleë op die oewer van die rivier Aude en word tradisioneel in twee verdeel: la ville basse ("onderdorp") wat aan die wesoewer van die rivier geleë is, en la ville haute ("bodorp") (of cité) wat geleë is teen die heuwel wat oor die Aude uitkyk. Die cité is gebou op 'n klein plato wat gevorm word deur die wyer wording van die Aude ongeveer 150 meter bo die ville basse.[28] Die ville basse is op die vlak van die Aude geleë op 'n hoogte van 100 m bo seespieël.

Die Aude kom in Carcassonne aan nadat dit deur die berge slinger in diep klowe van die bovallei van die Aude en word dan 'n baie kalmer rivier. Dit gaan by Païcherou verby langs die Saint-Michel-begraafplaas, waarna dit in twee takke verdeel wat 'n eiland vorm wat "l'île du Roy" genoem word. Vier brûe oorkruis die rivier: Garigliano-brug, Vieux-brug (wat slegs deur voetgangers gebruik kan word), Neuf-brug en die de l'Avenir-brug. Die Canal du Midi loop ook noord van die stad verby tussen die stasie en die tuin vAndré-Chénier langs die bastide Saint-Louis.

Die stad is geleë in 'n pas tussen die Montagne Noire in die noorde en die Pireneë in die suide. Die vlakte bestaan uit onlangse neerslae uit die Aude en van die Pireneë. Dit vorm die sandsteen van Carcassonne, wat gekenmerk word deur afwisseling van sandsteen, konglomerate en mergelsandsteen wat uit die Eoseen dateer.

Stedelike morfologie

[wysig | wysig bron]
Uitsig oor die Quartier de la Trivalle en die ville basse vanaf die Cité de Carcassonne

Die twee belangrikste kwartiere is die cité of ville haute en die bastide of ville basse. Die twee dele van die stad word verbind deur die Trivalle met die Vieux-brug wat die Aude kruis.[29] Die Cité is geleë op 'n hoë heuwel wat deur stadsmure omring word wat in die Middeleeue gebou is. Die habitat hier is dig en oud. Verkeer is problematies, gereguleer en verbode tydens Julie en Augustus. Die ville basse is 'n ou bastide ("versterkte nedersetting") wat volgens 'n reëlmatige seshoekige plan uitgelê is met bastions (bolwerk wat van 'n vestingwerk uitsteek) wat daaruit steek. Die strate sny mekaar loodreg en is om 'n sentrale plein gerangskik, die Place Carnot. 'n Boulevard omsirkel die bastide saam nadat die ou stadsmure in 1764 in opdrag van die biskop Armand Bazin de Bezons vernietig is. Die boulevard is breed en oop in teenstelling met die strate van die bastide wat heelwat smaller is. Baie van die strate van die bastide is tot voetgangerverkeer beperk.

Die res van die stad is verdeel in 'n aantal kwartiere: La Conte et Joliot-Curie, Ozanam et Saint-Saëns, Saint-Georges, le Viguier, Saint-Jacques, la Cité Fleming, Grazailles-la Reille, la Cité la Prade, la Cité Albignac, le Palais, Gambetta, le Plateau, les Capucins, Bellevue en Pasteur.

Die stad beskik oor talle uiters klein, geïntegreerde dorpies: Montlegun, Montredon, Grèzes, Herminis, Maquens en Villalbe.

Behuising

[wysig | wysig bron]
Behuising in die la Trivalle-kwartier

Carcassonne het teen 1999 19 399 wonings gehad. Min huise is sedert 1999 gebou en slegs 8,9% van die hoofwonings is na 1990 gebou. In teenstelling hiermee dateer 29,2% van alle bouwerk uit vóór 1949.

88,3% van die wonings is hoofwonings, verdeel in 53,9% individuele wonings en 46,1 % woonstelle (onderskeidelik 59,1% en 40,9% in die regio). 47,6% van die inwoners is eienaars van hulle wonings teenoor 48,7% huurders (onderskeidelik 56,8% en 37,6% in die regio)[30]'.[31]

Opmerklik het 3 771 wonings of 19,4% onder huurbeheer (HLM of Habitation à loyer modéré) geval in 1999 (9,6% in die regio), die stad voldoen dus nie aan die bepalings van artikel 55 van die wet op Solidariteit en stedelike vernuwing[32] van Desember 2000 nie, wat bepaal dat te minste 20% maatskaplike behuising vir die belangrikste munisipaliteite (bekend as communes) opsy gesit moet word. Mens kan ook let op die aantal wonings wat leeg staan: in 1999 was 9,4% leeg teenoor 7,7% in die regio as geheel. Die HLM-kantoor van Aude het in 1988 deelgeneem aan programme vir die verbetering van behuising deur huise met geïntegreerde huisoutomatisering op te rig. Die wonings wat as "l'étoile" en "Roosevelt" bekendstaan in Carcassonne is die eerste HLM-wonings wat geoutomatiseerd is.[33] Die kwartier Viguier en La Conte beslaan die grootste gros van die maatskaplike behuising in die stad en die meerderheid van die bevolking in die gebiede is dus immigrante of van immigrante-oorsprong. Die buurte bestaan uit HLM-wonings en woonstelle.

Die meeste wonings het 4 kamers (63,8%), of 3 kamers (19,9%), gevolg deur 2 kamers (11,8%). Klein wonings bly min (studio's: 4,5%). Die stad beskik dus oor groot wonings aangesien ruimte vir behuising nie beperk is nie en daar geringe aanvraag vir klein wonings is[34]'.[35] Die wonings in die stad is oor die algemeen goed uitgeurs met byna 89,9% wat sentrale lugversorging het en 57,4% wat 'n motorhuis of parkeerplek het (onderskeidelik 76,5% en 61,7% vir die regio).

Ontwikkelingsprojekte

[wysig | wysig bron]

Verskeie stedelike ontwikkelingsprojekte is onderweg in die noorde van die stad. Die projekte is daarop gemik om nuwe kommersiële sones in plek te stel om nuwe sakeondernemings na Carcassonne te lok en om nuwe woongebiede daar te stel. Die ZAC (zone d'aménagement concerté, "sone vir gekoördineerde ontwikkeling") van Hauts de Grazailles, geleë tussen die ringpad en die Canal du Midi word oorweeg en sal dit moontlik maak om tussen 500 en 700 wonings en openbare dienste geboue soos skole op te rig op 27 hektaar. Die ZAC Montredon is 'n nuwe buurt wat geskep sal word deur die verskuiwing van die hospitaal in 2012. Die terrein sal die nuwe gesondheidssentrum huisves sowel as wonings en opebare geriewe. Ten slotte is die onderverdeling van Montredon onderweg om op 'n terrein van 17 hektaar in die klein dorpie Montredon die konstruksie van maatskaplike besuising en woonstelle moontlik te maak.[36]

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (fr) Ville fortifiée historique de Carcassonne - UNESCO World Heritage Centre :, Patrimoine mondiale de l'UNESCO. Consulté le 23/05/2007
  2. 2,0 2,1 (fr) Albert Dauzat; Charles Rostaing (1979). Librairie Guénégaud (red.). Dictionnaire étymologique des noms de lieu en France. Parys. pp. 147a. ISBN 2-85023-076-6.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link) AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)
  3. (fr) Jean Guilaine, Daniel Fabre. Histoire de Carcassonne. Privat. p. 4. ISBN 2-7089-8328-8.
  4. meer spesifiek gebruik hy die frase Carcaso Volcarum Tectosage
  5. Histoire de Carcassonne van Jean Guilaine en Daniel Fabre, Privat uitgawe, ISBN 2-7089-8328-8, bladsy 4
  6. (fr) verskillende datums word deur verskillende bronne aangegee: Histoire de Carcassonne van Jean Guilaine en Daniel Fabre, Privat uitgawe, ISBN 2-7089-8328-8, bladsy 39 gee die datum as 462
  7. (fr) Histoire de Carcassonne van Jean Guilaine en Daniel Fabre, uitgawe Privat, ISBN 2-7089-8328-8, bladsy 41
  8. (fr) Histoire de Carcassonne van Jean Guilaine et Daniel Fabre, édition Privat, ISBN 2-7089-8328-8, bladsy 56
  9. (fr) Emmanuel Leroy Ladurie, Histoire du Languedoc, ed. Presses universitaires de France, coll. Que sais-je ?, 1982, page 42
  10. (fr) la dynastie des Trencavel, Ministère de la culture. Consulté le 27/05/2007 Geargiveer 1 Julie 2007 op Wayback Machine
  11. (fr) Carcassonne, histoire et architecture van Jean-Pierre Panouillé, éditions Ouest-France, ISBN 2737321948, page 52
  12. (fr) Histoire de Carcassonne van Jean Guilaine en Daniel Fabre, édition Privat, ISBN 2-7089-8328-8, page 97
  13. 13,0 13,1 (fr) Pierre Miquel, Les Guerres de religion, Club France Loisirs, 1980, ISBN Guerres de religion-Miquel , p 255
  14. (fr) Histoire de Carcassonne van Jean Guilaine en Daniel Fabre, édition Privat, ISBN 2-7089-8328-8, page 164
  15. (fr) Histoire de la viticulture en Languedoc-Roussillon - Conseil régional du Languedoc-Roussillon Geargiveer 27 September 2007 op Wayback Machine
  16. (fr) Le retour de l'Histoire, ministère de la Culture. Consulté le 23/05/2007 Geargiveer 1 Julie 2007 op Wayback Machine
  17. (fr) Revue de presse du Languedoc-Roussillon sur le tourisme Geargiveer 28 September 2007 op Wayback Machine page 20
  18. (fr) Divers aspects du climat de Carcassonne au cours du XIXe et début du XXe Geargiveer 28 September 2007 op Wayback Machine par Henri Castel
  19. (fr) Divers aspects du climat de Carcassonne au cours du XIXe et au début du XXe Geargiveer 28 September 2007 op Wayback Machine par Henri Castel, page 153
  20. (fr) La gare de Carcassonne, lesgares.com. Consulté le 06/06/2007 Geargiveer 30 September 2007 op Wayback Machine
  21. (fr) Carcassonne - Une Bastide méconnue. L'architecture contemporaine (XIX et XXe) de la Bastide Saint-Louis Geargiveer 27 September 2007 op Wayback Machine
  22. (fr) Aéroport de Carcassonne, CCI Carcassonne. Consulté le 21/05/2007 Geargiveer 27 Februarie 2008 op Wayback Machine
  23. (fr) Rapport sur les transports en Languedoc-Roussillon
  24. (fr) Ville de Carcassonne Geargiveer 27 September 2007 op Wayback Machine
  25. (fr) SETRA
  26. (fr) Transports, site officiel de la ville de Carcassonne. Consulté le 6/06/2007 Geargiveer 27 September 2007 op Wayback Machine
  27. (fr) Transports en Commun, site officiel de la ville de Carcassonne. Consulté le 6/06/2007 Geargiveer 8 Mei 2009 op Wayback Machine
  28. (fr) Carcassonne, histoire et architecture de Jean-Pierre Panouillé, éditions Ouest-France, ISBN 2737321948, page 2
  29. (fr) La ville aux deux sites classés au Patrimoine Mondial, Site officiel de la ville de Carcassonne. Consulté le 21/05/2007 Geargiveer 10 Mei 2007 op Wayback Machine
  30. (fr) INSEE - Logements à Carcassonne  : les occupants
  31. (fr) INSEE - Logements en Languedoc-Roussillon : les occupants
  32. (fr) (Loi relative à la solidarité et au renouvellement urbains - SRU)
  33. Histoire de l'office, Office HLM de l'Aude. Consulté le 20/08/07 Geargiveer 9 Oktober 2007 op Wayback Machine.
  34. (fr) INSEE - Logements à Carcassonne : le parc[dooie skakel]
  35. (fr) INSEE - Logements en Languedoc-Roussillon : le parc
  36. Les projets d'aménagement de la ville, Site officiel de la ville de Carcassonne. Consulté le 27/07/2007 Geargiveer 27 September 2007 op Wayback Machine
  37. 37,0 37,1 37,2 (fr) "Commission extra-municipale des jumelages". Carcassonne. Besoek op 18 Mei 2024.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]