Gaan na inhoud

Calman Lion Cachet

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kmdt. Calman Lion Cachet.

Kmdt. Calman Efraim Lion Cachet (Philipstown, Kaapkolonie, 24 Mei 1878 – plaas Ruiterskraal, distrik Steynsburg, Kaapkolonie, 13 Augustus 1901) was ’n belowende teologiese student van sy vader, prof. Jan Lion Cachet, aan die Teologiese Skool Burgersdorp ten tyde van sy dood in die ouderdom 23 jaar tydens die Tweede Vryheidsoorlog.

Herkoms

[wysig | wysig bron]
Kmdt. Calman Lion Cachet in sy tienerjare.

Prof. Cachet was drie keer getroud. Sy eerste huwelik was in 1868 op Burgersdorp met Zwaantje Postma (oorlede 1875), oudste dogter uit ds. Dirk Postma se derde huwelik, op 11 Februarie 1850 met Ida Sijpkens (†30 Maart 1857). Die twee kinders uit hierdie huwelik is jonk oorlede. In 1877 trou prof. Lion Cachet met Catharina Viljoen (oorlede 1885), dogter van sy kollega ds. P.J. Viljoen, emeritus-predikant van Colesberg. Twee seuns en 'n dogter is uit dié huwelik gebore, van wie Calman die oudste was. Die ander twee kinders was Petrus en Anna Mirjam (getroude van Van der Walt). In 1889 trou prof. Lion Cachet op Venterstad met Martha Sophia Viljoen (oorlede 1939), 'n niggie van sy tweede vrou en dogter van Francois Jacobus Viljoen. Uit dié huwelik is 'n seun, Francois Nicolaas, en 'n dogter gebore. Dié dogter, Rachel Aletta, is later getroud met prof. J.C. van Rooy van Potchefstroom.

Sterfte

[wysig | wysig bron]
Die hernieude klipstapel op die plek waar kmdt. Lion Cachet op die plaas Ruiterskraal gesneuwel het.
Die grafsteen op Lion Cachet se graf op Steynsburg, waar hy ná die oorlog herbegrawe is.

Genl. P.H. Kritzinger, onder wie Calman Lion Cachet geveg het, is op 13 Augustus 1901 beslis verslaan op die plaas Ruiterskraal tussen Steynsburg en Venterstad. Die generaal het ternouernood ontsnap, maar Lion Cachet, bevelvoerder van Kritzinger se verkennerskorps, en nog ’n kommandant het gesneuwel. Kmdt. J.L.P. Erasmus, 'n Transvaalse prokureur, is gevange geneem en na Indië verban en kapt. D. Scheepers is ernstig gewond. 'n Groot getal burgers is gewond of gevange geneem.

Die voorval het plaasgevind toe Engelse vliegkolonnes besig was om Kritzinger met 'n groot dryfbeweging noordwaarts uit die Suurberge te verdryf. Nadat kol. E. Crabbe dae lank op Kritzinger se spoor was, het Kritzinger laer opgeslaan op Ruiterskraal. Die middag teen tweeuur het 'n vars vliegkolonne onder kol. G.F. Gorringe onverhoeds op Kritzinger se laer met grofgeskut toegeslaan. Ná 'n hewige geveg het die kommando op die vlug geslaan en is tot laataand agtervolg. Kritzinger, kmdt. Louis Wessels en 'n klompie burgers het in die donker ontsnap. Twee dae later het hulle die Oranjerivier oorgesteek nadat hulle 48 uur in die saal was.

Toe kmdt. Erasmus in 1903 uit ballingskap terugkeer, het hy 'n brief aan prof. Lion Cachet geskryf om hom te vertel hoe sy seun gesterf het. Die brief met 'n skets van die slagveld het in besit gekom van Miriam Coetzee van Potchefstroom, prof. Lion Cachet se laaste oorlewende kleindogter. Daarin skryf Erasmus dat hy Calman “die dag tydens die geveg in diepe bepeinsing sien sit het, iets wat by hom geheel ongewoon was in sulke omstandighede”. Twintig minute later het hulle oor 'n leegte gevlug terwyl die vyand nog buite sig agter 'n rantjie in 'n geveg met hul agterhoede betrokke was. Hy en 'n paar burgers het 'n doringdraadheining genader toe Calman links in sy saal omdraai om agtertoe te kyk. 'n Koeël het hom bokant die linkeroog getref terwyl hulle nie eens naby die geveg was nie. Hy het uit sy saal geval, sowat 10 tree van Erasmus af. Erasmus het na Calman gery en sy kop opgetel. Dit het gelyk asof hy dood was. Dit was 'n “flou koeël” wat hom getref het en moes van 'n groot afstand geskiet gewees het, want dit het net die skedel binnegedring. Omdat die Engelse op hulle was, kon Erasmus net Calman se saal oor hom gooi en sy beursie, sakboekie en rewolwer neem voor hulle verder gevlug het. 'n Halfuur later is Erasmus gevange geneem toe die Engelse hulle omring het. Hulle is langs dieselfde weg terug as wat hulle gevlug het en het stilgehou op die plek waar Calman geval het. Hy was nie dood nie, maar bewusteloos. Die Engelse aanvoerder, sers.maj. A. Young, het hom op versoek van Erasmus na 'n opstal gestuur om verpleeg te word terwyl 'n paar burgers stapels klippe gepak het op die plek waar hy gelê het. In die brief het Erasmus onder meer geskryf: "Omtrent zijne populariteit wensch ik slechts dit te zeggen dat hy algemeen deur ons bemind werd. Ter eere van hem moet gezegd worden dat hij een buitengewoon dapper en verstandige krijgsman was.”

Maria Strydom het Calman in die plaashuis op Ruiterskraal verpleeg is. Hy is kort daarna oorlede en op Ruiterskraal begrawe. Ná die oorlog is sy stoflike oorskot op Steynsburg herbegrawe.

Die uitwissing van Kritzinger se kommando op Ruiterskraal het 'n einde gebring aan sy aandeel aan die oorlog in die Kolonie. Ná 'n mislukte poging om die Kolonie weer in September 1901 saam met genl. J.C. Smuts binne te val, het Kritzinger die Kolonie weer in Desember binnegeval, maar hy is naby Hanoverweg ernstig gewond en gevange geneem toe hy 'n blokhuislinie probeer oorsteek het.

Ná die Driejarige Oorlog

[wysig | wysig bron]
Die Studentemonument (Gloria Victis) is op Potchefstroom opgerig ter nagedagtenis aan die studente en oudstudente van die Teologiese Skool, toe nog op Burgersdorp, wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het. Hulle was Karel David Coetsee, Calman Efraim Lion Cachet, Jacob Philippus Maré, Johannes Abraham Venter en Jan Christoffel Kruger, almal met die rang kommandant.

Erasmus het ná die oorlog sers.maj. Young versoek om kmdt. Lion Cachet se persoonlike besittings en rewolwer aan die familie as aandenking terug te besorg. Tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938 is die stapel klippe wat die burgers gepak het, hernu. Op 15 Augustus 1967 is 'n gedenkteken van klip en 'n gedenkplaat op dieselfde plek opgerig. Die monument is onthul deur Lettie van Rooy, die enigste oorlewende suster van kmdt. Lion Cachet. Sy was die eggenote van prof. Joon van Rooy, in lewe rektor en kanselier van die Potchefstroomse Universiteit.

Nadat die Teologiese Skool begin 1905 na Potchefstroom verskuif het, is die Studentemonument daar opgerig ter nagedagtenis aan die studente en oudstudente van die Teologiese Skool wat in die oorlog gesneuwel het. Buiten Lion Cachet was dit Karel David Coetsee, Jacob Philippus Maré (sy halfsuster was Sarie Maré oor wie die liedjie Sarie Marais handel), Johannes Abraham Venter en Jan Christoffel Kruger, ook almal met die rang kommandant. By die onthulling daarvan het prof. Ferdinand Postma gesê dit sal 'n talisman wees wat vloek of seën sal uitspreek as die volk dié gestorwenes ooit vergeet.

Bronne

[wysig | wysig bron]