Pous Clemens XII
Pous Clemens XII | |
---|---|
Geboortenaam | Lorenzo Corsini |
Pontifikaat begin | 12 Julie 1730 |
Pontifikaat eindig | 6 Februarie 1740 |
Voorganger | Benedictus XIII |
Opvolger | Benedictus XIV |
Gebore | 7 April 1652 Florence, Groothertogdom Toskane |
Sterf | 6 Februarie 1740 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Clemens |
Clemens XII was die 246ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk vir 9 jaar, 6 maande en 26 dae, van 1730 tot 1740. Hy is veral bekend vir die bou van die Trevi-fontein en die nuwe fasade vir die Sint Jan van Laterane basiliek.
Biografie
[wysig | wysig bron]Pous Clemens XII[1][2] is gebore as Lorenzo Corsini op 7 April 1652 in Florence, Groothertogdom Toskane. Hy was die seun van Bartolomeo Corsini, markies van Casigliano en sy vrou Isabella Strozzi, suster van die hertog van Bagnuolo. Corsini is aanvanklik opgelei as 'n regsgeleerde aan die universiteit van Pisa. Hy praktiseer onder die bekwame leiding van sy oom kardinaal Neri Corsini. Na die dood van sy vader en sy oom in 1685 sou hy die hoof van die Corsini-familie word. Hy gee egter sy eersgeboortereg op en koop (soos in die tyd gebruiklik was) 'n prelatuur van Pous Innocentius XI vir 30,000 scudi. In 1690 word hy deur Pous Alexander VIII aangestel as titulêr biskop van Nikomedia. Op 18 Junie 1690 word hy in Rome tot biskop gewy deur kardinaal Flavio Chigi, biskop van Porto e Santa Rufina. Hy word aangestel as pouslike nuntius in Oostenryk, maar het nooit die pos beklee nie weens die probleme tussen Pous Alexander VIII en keiser Leopold. Op 6 Desember 1696 word hy aangestel as tesourier-generaal en goewerneur van die Engeleburg. Op 17 Mei 1706 stel Pous Clemens XI hom aan as kardinaal. Die volgende maand word hy kardinaal-priester van Santa Susanna. Pous Benedictus XIII maak hom prefek van die Tribunaal van die Apostoliese Signatura vir Geregtigheid en Genade. Hy word vervolgens kardinaal-priester van San Pietro in Vincoli en kardinaal-biskop van Frascati. Op 12 Julie 1730 volg hy Pous Benedictus XIII op en word gekroon op 16 Julie 1730 deur kardinaal Lorenzo Altieri. Hy regeer tot sy dood op 6 Februarie 1740 (Die BBKL gee 8 Februarie aan) en word opgevolg deur Pous Benedictus XIV. Die naam ‘Clemens’ beteken 'die sagmoedige'.
Kerklike loopbaan
[wysig | wysig bron]- 10 April 1690 – Titulêr aartsbiskop van Nicomedia.
- 25 Junie 1706 – Kardinaal-priester van S. Susanna.
- 19 Februarie 1710 – Camerlengo van die kollege van kardinale.
- 22 November 1720 – Prefek van die Tribunaal van die Apostoliese Signatura.
- 16 Desember 1720 – Kardinaal-priester van S. Pietro in Vincoli.
- 19 November 1725 – Kardinaal-biskop van Frascati.
- 12 Julie 1730 – Pous van Rome.
Pontifikaat
[wysig | wysig bron]Onder Pous Benedictus XIII is die staatsake oorgelaat aan kardinaal Niccolo Coscia wat die geldsake in 'n benarde toestand gelaat het. Die kardinale in die konklaaf verkies toe na vier maande die 78-jarige en byna blinde Corsini as Pous Clemens XII[3] met die hoop dat hy as voormalige tesourier-generaal die saak sou kon beredder. Die eerste ding wat die nuwe pous toe ook gedoen het, is om fiskale orde te bring. Hy het restitusie verkry van almal wat hulle posisies misbruik het en kardinaal Coscia is beboet en vir tien jaar tronk toe gestuur. Hy het ook die lotery weer ingestel wat deur Pous Benedictus XIII verbied is. Dit het 'n jaarlikse inkomste van 'n half miljoen scudi opgelewer. 'n Kompetisie is gehou vir die bou van die fasade van die Sint Jan van Laterane basiliek. Dit is gewen deur die argitek Alessandro Galilei en was klaar in 1735. Die fasade is meer paleisagtig as kerklik. Die pous het ook die triomfboog van keiser Konstantyn laat herstel, die strate van Rome laat plavei, die Quirinaal-paleis en die Trevi-fontein laat bou. 'n Nuwe hawe vir Rome is gebou in Ancona en die moerasse by die Trasimeno-meer is gedreineer.
Op die politieke terrein was Pous Clemens minder suksesvol. Pouslike troepe onder leiding van kardinaal Alberoni het nie daarin geslaag om die republiek San Marino in te neem nie en ook sy aansprake op die hertogdomme van Parma en Piacenza het nie geslaag nie. Die hertogdomme word in 1731 deur keiser Karel VI aan Don Carlos, kroonprins van Spanje gegee. In Augustus 1730 gee hy koning Victor Amadeus II van Savoje toestemming tot 'n morganatiese huwelik met Anna Canalis di Cumiana. Victor Amadeus moes egter abdikeer en dit het gelei tot groot onluste on Savoje.
Op 28 April 1738 publiseer hy die bul "In eminenti" waarin die Vrymesselaars veroordeel word. Hy het Sint Vincent de Paul heilig verklaar en hard opgetree teen die Franse Janseniste. Pous Clemens het hard gewerk om die Roomse en Ortodokse kerke te versoen. Hy het die patriarg van die Koptiese Kerk ontvang en die Armeense patriarg oortuig om die anatema teen die konsilie van Chalcedon en Pous Leo I terug te trek. Op 19 Desember 1735 stel hy die jongste kardinaal ooit aan, in die persoon van die agt-jarige kroonprins van Spanje, Luis Antonio Jaime de Bourbon y Famesio.
Die kollege van kardinale
[wysig | wysig bron]Pous Clemens XII het 35 nuwe kardinale aangestel in 15 konsistories. Weens die omvang van die lys word dit hier gehou.
Saligverklarings
[wysig | wysig bron]- 23 November 1732 – Catherine del Ricci.
- 23 Januarie 1733 – Jan van Dukla
- 24 April 1736 – Pous Benedictus XI
- 13 April 1737 – Clare van Montefalco
- 13 April 1737 – Michelina van Pesaro (Michelina Metelli)
- 22 Junie 1737 – Joseph van Leonissa (Joseph Desideri)
- 15 Julie 1737 – John Angelo Porro
- 1738 – Andrew Caccioli van Spello
Heiligverklarings
[wysig | wysig bron]- 1731: Saint Peter Orseolo
- 16 Junie 1737 – Catherine van Genua (Caterina Fieschi Adorno)
- 16 Junie 1737 – Jean-François Régis.
- 16 Junie 1737 – Giuliana Falconieri
- 16 Junie 1737 – Vincent de Paul
Bulle, briewe, ensiklieke en dekrete
[wysig | wysig bron]Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Artaud de Montor, Alexis, Chevalier de. (1911) The lives and times of the popes (vertaal vanaf "Les vies des papes") The Catholic publication Society of America, New York. Heruitgee: Kessinger Publishing. http://www.saint-mike.org/library/ papal_library/default.asp
- Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6.
- Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ De Montor, Artaud, Chevalier de. 1911. The Lives and Times of the Popes. The Catholic Publications Society, New York.
- ↑ Clement XII. (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.
- ↑ Loughlin, J. (1908). Pope Clement XII. In The Catholic Encyclopedia. New York: Robert Appleton Company. Besoek Maart 5, 2011 by: http://www.newadvent.org/cathen/04030a.htm
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- CE Inskrywing in die Catholic Encyclopedia (Engels)
- CF Inskrywing in die Catholic Forum (Engels)
- BBKL Inskrywing (met Literatuurverwysings) in die Biographisch-Bibliographisches Kirchenlexikon (Duits)
- PTA Inskrywing in "Popes through the Ages" deur J. Brusher S.J. (Engels)
- Bulle 'n Databasis van pouslike ensiklieke, dekrete en bulle (in Engels)
- VH Inskrywing in die Vatican History (in Duits).
- CA Inskrywing in die "Cardinals of the Holy Roman Church".
- Inskrywing in die Catholic Hierarchy (Engels)
- Inskrywing in die Giga Catholic Information (Engels).
Wikimedia Commons bevat media in verband met Clemens XII. |
Nota
[wysig | wysig bron]Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Opvolging
[wysig | wysig bron]Voorafgegaan deur Benedictus XIII |
Pous (Pontifex Maximus) 1730 – 1740 |
Opgevolg deur Benedictus XIV |
Basis URL: en:Pope Clement XII