Hendrik die Seevaarder
Prins Hendrik die Seevaarder was die grondlegger van die Portugese koloniale ryk en dus een van die grootste figure in die geskiedenis van die destydse Westerse wêreld. Hy het teen die einde van die Middeleeue en begin van die Renaissance ‘n oorheersende rol gespeel in die ontdekkingsreise langs die weskus van Afrika. Bartolomeus Dias, Vasco da Gama en ander ontdekkers het voortgebou op die kennis wat hy ingesamel het.
Die mens
[wysig | wysig bron]Infante dom Henrique, prins Hendrik van Avis, die graaf van Viseu en tans algemeen bekend as prins Hendrik de Seevaarder (* Oporto, Portugal, 4 Maart 1394 - † Vila do Infante, Sagres, naby Kaap St. Vincent, Portugal, 13 November 1460) was die vierde seun van koning Johan I van die Huis van Avis en prinses Philippa van Lancaster, ‘n kleindogter van koning Eduard III van Engeland. In Hendrik se tyd was die gees van die Kruistogte nog baie sterk. Boonop het daar in Portugal ‘n militêre gees geheers weens die oorlog teen Spanje. Hendrik was ‘n streng en vrome man met ‘n besondere wilskrag en ondernemingsgees en sterk toegewyd aan sy kerk en dus met ‘n ingebore afkeer aan die More. Sy strewe was om die kus van Afrika te verken en beskou dit as ‘n diens aan God en tot voordeel van sy medemens. Hy wou die legendariese Priester Jan in die binneland van Afrika vind. Daarom neem hy as sy persoonlike leuse die Franse spreekwoord aan wat lui: “talant de bien faire”, om steeds die goeie na te jaag.
Ideale
[wysig | wysig bron]In Augustus 1415 verslaan Hendrik, sy pa en sy broers met ‘n leërmag die More by Ceuta. Dit was hul eerste verowering op Afrika-grondgebied. Weens die groot roem wat Hendrik in die veldtog verwerf, word hy aangestel as die goewerneur van Ceuta. Hier kom hy in aanraking met Arabiere en hul karavane wat uit Timboektoe en omgewing kom handeldryf het. Hierdie manne se verhale bring Hendrik op die idee dat Portugese seevaarders self om die weskus van Afrika kan seil op soek na die bronne van die handelsware, veral slawe en goud. Hy beoog om ‘n seeweg om Afrika na Indië te vind wat vry was van die dreigende More. Volgens hom was die aarde rond en moes dit dus moontlik wees. Dan kon hy die sterkte van die More vasstel, bondgenote teen hulle soek, ‘n Kruistog teen hulle voer, die Christelike geloof versprei en probeer om kontak te maak met die priester Jan.
Seevaartskool
[wysig | wysig bron]In 1419 word Hendrik aangestel as die goewerneur van die Algarve. Hier stig hy by Kaap Sagres ‘n seevaartskool om kapteins en matrose vir die karvele op te lei. Self neem hy nooit aan ‘n groot seereis deel nie, maar hou hom besig met beplanning, navorsing, toesighouding, onderrig, finansiering, toerusting van die skepe en veral aanmoediging. Dit was moeilik om personeel vir die skepe te vind, want die bygelowige matrose was bang vir die “kokende see” en “monsters” op die grense van die destyds bekende en ‘n plat aarde waarvan hulle kon afval. Boonop was hulle bekommerd dat hulle nie na Portugal kon terugkeer nie. Hendrik beveel dat elke skip ‘n dagboek moes hou waarin gereeld inligting oor winde, seestrome, getye, waterdiepte, ure sonskyn, reënval, ligging van moontlike eilande, afstand van die vasteland, ens. aangeteken moes word. By ‘n skip se terugkoms in Sagres moes die dagboek ingelewer word. So is jarelank aardrykskundige kennis versamel en kaarte daarvolgens aanhoudend aangepas en daarna vir opleiding in die seevaartskool gebruik. (Sir Francis Drake het die seevaartskool in 1587 aan die brand gesteek. Hierdeur het baie van die ingesamelde kennis verlore geraak.)
Ontdekkings
[wysig | wysig bron]Veertig jaar lank was prins Hendrik betrokke by die ontdekking van nuwe plekke aan die Atlantiese kus van Afrika. Reeds in 1418 word Porto Santo en Madeira (beide op die Madeiraeilande) herontdek en gekoloniseer. Daarna volg die Asore en teen 1434 is die skepe al 200km verby Kaap Bojador. Daarmee is dan ook die matrose se bygeloof van ‘n kokende see verpletter. Daarna vind vir ‘n aantal jare weinig verkenningstogte plaas nie, weens interne probleme in Portugal. Kaap Blanco word in 1441 bereik en die eiland Arguin in Mauritanië in 1443. Op Arguin ontwikkel ‘n lonende slawehandel. In 1445 kom die skepe by Senegambië, Santa Maria en Kaap Verde aan. Die jaar daarop bereik hulle Sierra Leone. Die Kaap Verdiese Eilande word in 1455 ontdek. In 1458 word die laaste punt voor Hendrik se dood bereik, naamlik Kaap Palmas in die suidooste van Liberië.
Gevolge
[wysig | wysig bron]Vir prins Hendrik was die resultate van die jarelange Afrika-ekspedisies maar beskeie en teleurstellend. Dit het vir Portugal geen noemenswaardige rykdom opgelewer nie, die More is nie verslaan nie, priester Jan en die suidkus van Afrika is nie gevind nie. Maar die ekspedisies het ‘n keerpunt in die skeepvaart en handel oor die hele wêreld gebring. Dit het die Westerse beskawing versprei, die ontwikkeling van die ekonomie, wetenskap en veral aardrykskunde bevorder en sodoende die grondslag gelê vir verdere ontdekkings. Op hierdie ondervinding en prestasie het die Portugese en hul mededingers in die handel met die Ooste voortgebou.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ BRANCO, FERNANDO (2022). "HENRY THE NAVIGATOR AND THE ST. VINCENT PANELS". TRIPLO V, CLEPUL Univ. Lisboa.
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Prins Hendrik die Seevaarder. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 10, nr. 1, September 1961