Gaan na inhoud

DNS

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hierdie artikel handel oor die molekuul. Vir die internetdomeinnaamstelsel, sien Domeinnaamstelsel.

Deoksiribonukleïensuur, oftewel DNS, is die belangrikste draer van erflike inligting in alle bekende organismes en sommige virusse.

'n DNS-molekuul bestaan uit twee lang stringe nukleotiede, wat saam tot 'n dubbelspiraal buig. Die twee stringe is aanmekaar verbind deur sogenaamde basispare. 'n Basispaar verbind twee nukleotiede wat teenoor mekaar lê. Die volgorde van nukleotiede in 'n string word 'n sekwensie genoem. Omdat daar in beginsel oneindig baie sekwensies moontlik is, kan die volgorde van nukleotiede unieke erflike inligting verskaf.

Die DNS van alle organismes is saamgestel uit vier nukleotiede; adenien (A), timien (T), sitosien (C) en guanien (G). Hulle kan in enige volgorde langs mekaar verbind wees om die een ruggraat van die dubbelspiraal te vorm. Daarenteen kan elke nukleotied net met ’n spesifieke nukleotied teenoor hom verbind om ’n basispaar te vorm. So byvoorbeeld kan A net teenoor T verbind wees en C net teenoor G. Terwyl die verbinding van nukleotiede langs mekaar stabiele kovalente verbindings is, is die verbindings teenoor mekaar swakker waterstofverbindings. Dit verseker dat dit moeilik is om die dubbelspiraal loodreg te sny, maar maklik om dit in die lengte oop te trek soos ’n ritssluiter. Die eienskap om DNS oop te rits, maak DNS-replisering moontlik wat op sy beurt ’n vereiste is vir selverdeling.

In eukariote kom DNS net binne die selkern voor en die meeste eukariote sal verskillende lengtes DNS huisves wat elk bestaan uit miljoene basispare. Binne die selkern is DNS verpak in die vorm van chromosome wat die ruimtelike ordening van DNS vergemaklik voor, tydens en ná selverdeling. In baie prokariote kom DNS in die vorm van ’n kring voor en omdat prokariote aansienlik kleiner is as eukariote, word DNS nie verpak in chromosome of is dit nie beperk tot ’n selkern nie.