Verf

gepigmenteerde vloeistof toegedien oor 'n oppervlak wat droog word as 'n soliede film

Verf is enige vloeistof, vloeibare of mastieksamestelling wat, nadat dit in 'n dun laag aangewend is op 'n substraat, dit 'n soliede filmlaag vorm. Dit word algemeen gebruik om voorwerpe te beskerm, kleur, of tekstuur aan dit te gee. Verf word in baie kleure — en in baie verskillende tipes, soos waterverf, sintetiese, ens. gemaak en verkoop. Verf word gewoonlik gestoor, verkoop en aangewend as 'n vloeistof, maar die meeste tipes word droog tot 'n soliede lagie.

'n Verskeidenheid verwe

Verf bevat kleurstofdeeltjies (pigmente) wat in 'n vloeibare medium op verskillende oppervlakke aangebring kan word. Die verf vorm 'n stewige film wat die oppervlak teen verwering beskerm Verf word op verskillende maniere aangebring, naamlik deur dit met ʼn kwas aan te verf, dit aan te spuit of dit elektrostaties te laat neerslaan, of deur 'n voorwerp daarin te dompel.

Verf word op materiale aangebring ter beskerming, verfraaiing of verbetering daarvan. Dit bevat die gekleurde bestanddele in die vorm van korreltjies van anorganiese stowwe (minerale pigmente). 'n Essensiële bestanddeel van verf is die bindmiddel of filmvormer, wat dikwels uit 'n kunsstof bestaan. Die film word droog deur fisiese droging (waarby byvoorbeeld 'n oplosmiddel verdamp) of deur chemiese droging (waarby die film onder die invloed van 'n chemiese reaksie set). Verf bevat gewoonlik ook ʼn verdunner. Dit dien om die verf vloeibaar te maak vir aanwending en dikwels ook as oplosmiddel.

Geskiedenis

wysig
 
'n Houtskool en oker grotskildery van Megaloceros in Lascaux, Frankryk

In 2001 en 2004, het Suid-Afrikaanse argeoloë berig dat 'n 100 000 jaar-oue mensgemaakte oker-gebaseerde mengsel wat gebruik kon word soos verf, in die Blombosgrot gevind is.[1][2] Verdere uitgrawings in dieselfde grot het gelei tot die 2011-verslag van volledige gereedskap vir die maal van pigmente en die maak van 'n primitiewe verfagtige stof.[3] Grotskilderye geteken met rooi of geel oker, hematiet, mangaanoksied, en houtskool kon gemaak gewees het deur vroeë Homo sapiens so lank as 40 000 jaar gelede.

Komponente

wysig

Draer

wysig

Die draer word saamgestel uit die binder; of, as dit nodig is om dit te verdun, die binder met 'n oplosmiddel of water.[4][5] In hierdie geval sal byna al die oplosmiddel verdamp het sodra die verf droog is, en is slegs die binder oor, wat dan die oppervlak bedek.

 
Waterverf word met 'n kwassie aangewend
 
'n Versameling blikke verf en spuitkannetjies

Binder

wysig

Die binder is die filmvormingkomponent van die verf.[6] Dit is die enigste komponent wat altyd teenwoordig is by al die verskillende tipes van formulerings. Baie binders is te dik om direk aangewend te word en moet verdun word. Die tipe verdunner, indien teenwoordig, wissel saam met die binder.

Die binder verleen eienskappe soos glans, buigsaamheid en duursaamheid.[7]

Verdunner of oplosmiddel

wysig

Die belangrikste doel van die oplosmiddel is om die polimeer op te los en die viskositeit van die verf aan te pas. Dit is wisselvallig en word nie deel van die verffilm nie. Dit beheer ook vloei- en aanwendingseienskappe, en in sommige gevalle kan dit die stabiliteit van die verf beïnvloed terwyl dit in die vloeibare toestand is.

Die belangrikste funksie is as draer vir die nie-vlugtige komponente. Om swaarder olies (bv. lynsaad) makliker te kan uitsprei in olie-gebaseerde binnenshuise verf, is 'n dunner olie nodig. Hierdie vlugtige stowwe se eienskappe dra tydelik by tot die verspreiding van die verf en wanneer die oplosmiddel soos tolueen verdamp het, plak die res van die verf vas aan die oppervlak.

Water is die belangrikste oplosmiddel vir waterbasisverf, selfs in dié wat van die mede-oplosmiddeltipe is.

Pigment en vuller

wysig

Pigmente is korrelvastestowwe wat by die verf gevoeg word om kleur daaraan te verleen. Vullers is korrelvastestowwe wat bygevoeg word om taaiheid, duursaamheid, tekstuur, en ander spesiale eienskappe aan verf te verleen,[8] of om die verf se koste te verminder.

Die pigmente in verf is baie fyn en vorm saam met die bindmiddel en die oplosmiddel ʼn emulsie of oplossing. Die uiteindelike film bestaan uit die pigmente wat as harde korreltjies langs mekaar gerangskik is.

Die kleur wat deur middel van pigmente verkry word, word bepaal deur die golflengte van die lig wat dit weerkaats, asook deur die brekingsindeks daarvan. Die brekingsindeks van die pigmente moet van die van die bindmiddel verskil sodat breking en weerkaatsing by elke vlak in die pigment-bindmiddelverbinding plaasvind en die kleur eenvormig vertoon. Pigmente het onder meer die volgende eienskappe:

- Kleurvermoë: die hoeveelheid pigment wat nodig is om 'n bepaalde kleur te verkry.

- Ligbestendigheid: die vermoë om sonlig te weerstaan en kleurvas te bly.

- Dekvermoë, dit wil sê die hoeveelheid pigment wat nodig is om ʼn oppervlak te bedek sodat dit nie meer deurskyn nie.

Die bindmiddel in verf bestaan uit boustene of makromolekules wat as monomere bekend staan. Dit word in 'n middel opgelos en die molekuulmassa bepaal die hoeveelheid oplosmiddel wat gebruik moet word. Oor die algemeen bevat verf sowat 80 % oplosmiddel.

Verf van Suid-Afrika se vroeë inwoners

wysig

Die vroeë inwoners van Suid-Afrika het verskeie natuurlike kleurstowwe, byvoorbeeld gekleurde grond en plante en bessies, gebruik om verf te maak. Die Khoi en die San het verf gemaak deur oker, 'n besondere soort rooi klei, met 'n medium, waarskynlik dierevet, te meng. Hulle het ook oranje en geel grond verpoeier en dit met die een of ander vloeistof, waarskynlik urine of die wit van volstruiseiers, gemeng. Houtskool en voëlmis is ook gebruik.

Die rotstekeninge van ons land is oor die hele wêreld bekend. Die Khoi en die San het blykbaar die verf wat hulle wou gebruik, aangemaak op die plek waar hulle geskilder het. Omdat die natuurlike stowwe waarvan hulle verf kon maak, maar taamlik beperk was, kon hulle nie met so 'n verskeidenheid kleure soos vandag se skilders verf nie. Hulle het blykbaar nie blou of groen gehad nie. In geen rotsskildery is enige van hierdie twee kleure nog gesien nie, maar dit kan ook wees dat dit van 'n stof gemaak was wat maklik verweer of verbleik het.

Die Xhosas het verskillende kleure grond en plantsappe gebruik om hulself en hul hutte mee te verf. Selfs vandag nog word die gesig en liggaam van jong Xhosas tydens die inisiasietydperk met wit klei beplak.

Soorte

wysig

Die volgende soorte verf is in die handel verkrygbaar:

  • Nitrosellulose-verf, wat eerder ʼn vernis as 'n verf is, en dikwels as ʼn vulstof gebruik word.
  • Chloorrubberverf, met goeie slytwerende eienskappe.
  • Vinielverf, 'n versamelnaam vir verfstowwe wat uit koolwaterstowwe berei word. Bekende soorte is PVA (polivinielasetaat), met ʼn olie- of 'n waterbasis, PA (poliakrilaat) en PM (polimetakrilaat).

Verwysings

wysig
  1. http://news.nationalgeographic.com/news/2004/03/0331_040331_ostrichman_2.html.
  2. https://www.theguardian.com/science/2011/oct/13/stone-age-painting-kits.
  3. http://www.livescience.com/16538-oldest-human-paint-studio.html.
  4. Wicks, Zeno W., Jr. (2004). Organic Coatings: Science and Technology (3rd uitg.). Hoboken, New Jersey, USA: John WIley & Sons, Inc. p. 5. ISBN 978-0-471-69806-7.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  5. Lambourne, R (1999). Paint and Surface Coatings: Theory and Practice (2nd uitg.). Abington, Cambridge, England: Woodhead Publishing Limited. p. 6. ISBN 1 85573 348 X.
  6. http://www.essentialvermeer.com/palette/palette_anatomy_of_paint.html#.VieiDCvQO6I.
  7. Baird, Colin (30 Junie 2012). CourseSmart International E-Book for Environmental Chemistry (in Engels). Palgrave Macmillan. ISBN 978-1-4641-6287-9.[dooie skakel]
  8. Gürses, Ahmet (4 Mei 2016). Dyes and Pigments (in Engels). Springer. ISBN 978-3-319-33892-7.

Bronnelys

wysig

Notas

wysig
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.